Boererate: Knoffelhuisies, speensalf en Preparation H.

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel.
Verwysing: 
Met dank aan Elmarie Westerink vir die aandra en deel van hierdie tong in die kies afdeling.

My liewe moeder het my vertel van die raad wat sy op RSG gehoor het vir beenpyne. Wel, blykbaar help dit NIE om met 'n aartappel in die bed te slaap nie, want sy het dit probeer sonder enige sukses. (Ek moet se dat ek aan ander groente kan dink wat dalk meer sal beteken???).

Nog ander groentehulp is die wat verpleegsters in die kraaminrigting mildelik uitgedeel het - koolkopblare en kasterolie vir melkkoors, knoffelhuisies vir aambeie, komkommerskyfies vir die oe wat opgeswel het weens die min slaap met die babas wat nooit slaap nie ...

En nou dink ek aan die nuutste gier wat die vrouens blykbaar beetgepak het daar in Pretoria (Tswane?) en dit is om Preparation H of soortgelyke roompies wat help vir aambeie onder hulle oe te smeer. Dit help blykbaar vir die sakke wat so met die jare onder die oe vorm. Nou kyk, ek wil nie weet wat maak jy dan met jou oogroom nie? Ontrimpel jy dalk nou ander areas? Kyk jy nou na die lewe met 'n ander oog?

Ai toggie tog. Daar is darem boererate wat rerig werk. Naeltjieolie vir tandpyn werk soos 'n bom. (En ek moet weereens die knoffelhuisies noem...dit is rerig effektief). Vanillaessens op 'n brandwond en conditioner op jou bene as jy verbrand het in die son doen ook wondere. 'n Druppel asyn in die kookwater help vir 'n gebarste eier wat wil uitkook. Daar is niks so goed soos 'n warmwatersak om sommer allerande pyne te verlig nie.

O ja, die speensalf...wel, dit is 'n storie vir 'n volgende keer, maar blykbaar staan die vrouens tou by Leeubrug....

Woestyngroete
Elmarie