Bollie se bolletjies

Bollie se bolletjies

Hallo wonderlike Woes mense, hehe. Hiermee ‘n gebeurtenis wat ek verwoord het en aan ‘n goeie vriendin per e-pos gestuur het, aangesien sy ‘n ongeluk gehad het, en ek haar nie te siene kon kry na die afspeel daarvan nie. Let wel, skuilname word gebruik en ek verwys na my huismaat as ‘niggie’ in die staaltjie. Dit lui as volg:

Weet *Linda dat ek amper soos ‘n bandiet van ouds toegesluit was? Maar wag, ek loop die storie vooruit… Laas week Saterdag, toe kyk ek en niggie na Harry Potgieter op MNET. Maar pleks daarvan dat ons ‘n betowering van multi kleurige karakters en allerlei ander wonders sien, het ons besef dat die spesifieke aflewering bietjie afgewater was. Dis toe dat ons koukus oor wat ons kan doen om verveeldheid kamp te slaan. Ek onthou toe ‘n geleentheid waar ons ‘n slag gesels het oor die munisipale kuns wat onlangs by die ingang van Edenvale aangebring is. Dis so ‘n reeks multi-kleurige konkreet bolle wat ‘n eiland omlyn. Niggie het haar misnoeë oor die goed bekend gemaak en gesê die kleurskema steur haar en toe in ‘n grappie vir my gesê ons sal dit nog regmaak… Nou ja, dit was darem iets om te doen en ons besluit gesamentlik dat die affêre eintlik ‘n guns sal wees aan die munisipale span se onvermoë om kleure wat werk bymekaar te pas…

Ek vra niggie of sy ‘n "catsuit" vir die hele bedryf het en sy laat weet my dat sy wel ‘n “sting operation” pakkie aanmekaar kan slaan. So gesê, so gedaan… Elkeen word met die nodige toegerus: pikswart klere, ‘n swart hoed vir elk, twee kwaste en ‘n beige blik verf. En daar pikkesool ons toe na die verlangde bestemming, kwassies in die hand.

Dit was net so skuins na 21h00 en daar aangekom het ons besef dat die verkeer nogal hewig is. Maar bravade was volop en vlugtig het ons een van die prominente rooies betrek. Ek vee en verf nogal soos ‘n Picasso deur die kwas in sulke kunstige hale oor die bol te trek. Man was dit nou lekker! Maar vinnig word ek deur niggie getakel wat nogal vir my sê ek verf nie onderlangs mooi nie. Einde ten laaste het ons die eens rooi bal sommer vlugtig na beige verkleur, en dit terwyl die verkeer al om die eiland woel. Ons vlug toe na ‘n nabye veld na die nagtelike kuns-gedrewe daad en tuur so deur die kakie bosse na ons hande werk daar onder die beligting van Ekhurkhuleni munisipaliteit se straatlamp beligting. Ons was dit eens: Dit lyk te mooi! En omdat ons sonder steurnis die takie vermag het, het ons besluit om ‘n bloue ook met ‘n kwas te moker! Verf, verf, verf… “bollie kom ons doop die ene bolletjie, hiehiehie…” kom dit van my medepligtige. Na nommer twee vlug ons toe nie eens nie, ag nee wat, ons loop ewe windmakerig na die veldjie toe, al gorrelend oor die goeie werk wat ons gedoen het.

Maar *Linda, toe ons die veld betree hoor ons hoe remme aangeslaan word en toe ons omkyk is daar ‘n sekuriteits motor wat na ons rigting mik. Die blerrie ding het nogal sy ligte ook aan! Dis nou om te wys dat hul voortvlugtiges nasit! Met angs gil niggie vir my: “Hardloop, hardloop!”

Ja… Iemand het die outoriteite laat ontbied! Met die gegil, en flits van ligte was ek so gedisoriënteerd en het ek soos ‘n verskrikte kameelperd begin rondtrippel en koers begin kies deur die veld. Ek onthou nog hoedat die blik verf rammel soos ek lomp-lomp rondtrippel en hekkies spring oor klippe en ander veld euwels. Aan die ander kant uitgekom skree ek toe oor my skouer vir niggie dat sy van die bewyse moet ontslae raak en met dié, slinger ek toe blik en kwas oor ‘n muur in iemand se erf in. Maar ek hardloop… Bruce Fordyce en Elana Meyer se Moses, ek het laat loop met die lange bene, nes die "early bird"! Na so ent besef ek die kort asempie jaag nie meer agter my nie en toe ek terugroep die donker in, hoor ek ‘n gepiep in die verte. “Ek’t geval!” Aag nee man.. Ons gaan gevang word! - dis wat in my kop raas soos ek terughaas om vir niggie op te help. En deur dit als slaan my hart dromslae en kry ek polsende palputasies wat enige hyg-roman opdraend sal gee…

Daar lê my medepligtige op ‘n grasbultjie, kompleet met die armpie uitgestrek na vore – kwassie in die hand. Die beeld van die “statue of liberty” wat omgepotter het was vir ‘n oomblik vasgevang op ‘n grasperk in Edenvale! Verbete sukkel sy toe op, maar ek moes in ‘n oomblik van verskrikking weer koers verander het want skielik hardloop ek toe weer weg! My gedagtes jaag verwoed deur my nes die adrenalien, en rasionele besluite vlieg saam met my asem na wie-weet-waar-na-toe…
Ek sien ‘n lae muurtjie en wou nog oorhop in iemand se erf in met die hoop dat ek daar kan skuil. Ongelukkig word daardie opsie sommer vlugtig geskrap, want vanoor die grasperk kom ‘n brakkie aangestorm, al blaffende. My vrees skop in want ek weet tyd is teen my en my kans vir wegkom raak al hoe skraler. Dus draai ek terug en met die aksie slaan ek vas in niggie wat nog met die kwassie aangehyg kom. Ons flop neer- die kameelperd en die aflos-atleet wat net nie daardie verdomde verfding wil wegmaak nie… “Kom!” is al wat ek uitkry en koers kies na die veld toe. Ons sukkel-sukkel veld toe en einde ten laaste verskans ons onsself in die kakie bosse en lang grasse. Ek hoor alles in detail, skielik is my gehoor super sensitief - My hart wat rondbons soos ‘n zoeloe drom in sesde, niggie se snakke na asem, die buurt se hondekoor wat in ‘n luidrugtige crescendo saam donder agv ons aktiwiteit. Dit was verskriklik!

Ons het gewag dat die oordeelsnag op ons toesak, maar ons agtervolgers het blykbaar die pad byster geraak en na heelwat gestry van wat ons moet doen daar tussen die graspolle, het ons huis toe gedraf… Ongedeërd…

Ek is stellig bewus van die “crime doesn’t pay” slagspreuk, maar ons sien dit as dienste wat uit die goedheid van ons harte gelewer is… En o, die tweeling bolletjies is vlugtig weer die volgende dag reggestel… Hulle pronk weer in hul helder rooi en blou skakerings. Snaaks hoe die munisipaliteit nooit fondse het om paaie te versien en dinge reg te maak nie, maar konkreet balle geniet prioriteit. Vreemde landjie wat ons bewoon, maar nou ja. Rembrandt en kie is steeds op vrye voet en sprake van wie die “colour crime” gepleeg het is bloot ‘n fabel...