DIE DING MET DIE DOMINEE

As dit kom by dood en afsterwe, is ek nie te vinde vir grappe en ligsinnigheid nie. Self te meer as dit jou Ouma is wat heengaan. Alhoewel almal van ons dit verwag het, was die hartseer steeds groot. MAAR soos dit in ons huis gaan, kan 'n geliefde nie eens afsterf sonder een of ander 'episode' nie.

Ouma het rustig gegaan. Ek het langs haar gesit saam met die dokter - wou nog iets doen toe dok my sê - daar is niks om te doen nie - alles het gegaan. Betraand en baie hartseer oor die klein oumensie wat my al die jare versorg het en vir wie ek so verskriklik lief was, verlaat ek die kamer om die nuus aan my ma en kinders oor te vertel, my pa en man te vertel en die res van die familie te verwittig.

Ouma was 'n diep gelowige mens en 'n stoere NG kerk ganger. In die laaste paar maande dat sy nie kerk toe kon gaan nie, het ons liewe dominee altyd by haar huisbesoek kom doen. Nou hierdie dominee het 'n baie skerp stemmetjie (pa het altyd gesê hy praat soos een wat 'n nou onderbroekie aanhet). Hierdie kommentaar van pa het ook dan gesorg vir menigmale se giggelry in die kerk wanneer ds. preek. Jy weet, as hy hier by die 'punchline' kom en die stem moet bulder, dan raak daai stemmetjie mos al skriller - soos 'n mikrofoon waarvan die treble toe hoog gestel is.

Die dag na ouma se dood, kom ons ds ook daar aan om te simpatiseer en reelings te tref. En daai boerboel van my ma (Tyke) was altyd rustig - tot die dag toe. My ma en tannie sit in die sitkamer, Tykie saam met hulle. Ek maak die deur oop vir oom Doom en wil hom deurvat na die sitkamer toe. Nou kyk, ek weet nie of Tykie daardie simpatisering verkeerd gelees het nie, maar die hond spring op. Eers dink ek hy wil byt, maar dis nie die geval nie. Doom staan verstar in sy spore en daar kry Tykie mos die 'gevoelendheid' vir die Doom se been. OMW!! Ek sien my ma weet nie hoe om te maak nie, want sy's so hartseer, wil die ds help, wil lag... sommer alles deurmekaar.... Ek weet ook dat ek nie nou moet waag 'interfere' nie, anders word ek en die Doom gebyt... Na 'n hele paar sekondes van hiedie ongerieflike situasie, pik Ma toe by en gryp hom by sy halsband en trek hom weg van die ds af.... gaan sit hom toe ook sommer in die kamer sodat ons ongesteurd verder kan praat.

Nou hoe simpatiseer 'n ds met 'n gesin nadat die hond sy been verkrag het? Met die hele petalje het ek toe sommer besluit om te gaan koffie maak.... anders het ek weereens nie ophou giggel nie.

Van daardie dag af, hou ek my al hoe skaarser by die NG Kerk, want Vader behoed wat sal gebeur as ek daai hoë stemmetjie moet hoor en die 'visuals' van Tykie se liefkosing teen die been van daardie arme man met die nou onderbroekie moet kry...

Ek's sommer vandaar af AGS toe. :-)