Die Panalla-sage: Eerste ontmoeting

Dit was nou nie werklik liefde met die eerste oogopslag nie. Inteendeel, toe ek haar die heel eerste keer sien het ek nie veel notisie van die 'rooibont speenvarkie' geneem nie. Al wat ek gedink het was iets in die lyn van : "Ek hoop wragtag nie dis wat hulle vir my ingedagte het nie!" En so is die naweek toe ook verby. Ek het haar nie weer gesien nie, en ook nie regtig daaroor bekommer nie.

Maar, `n paar weke daarna, toe word ek mos 21 jaar oud en my ouers gee vir my so klein koevertjie. In die koevertjie was `n baie vreemde, alledaagse sleuteltjie. Nou ek is inniglik dankbaar my ma-hulle het na my geluister en nie vir my een van daai aaklige, blink oorgeblaaste plastiek sleutels by Cardies gaan koop nie. Ek sou hulle sowaar daarmee gegooi het. Maar hierdie eienaardige sleuteltjie wat lyk of dit op `n buiteslot eerder as in `n 21-verjaardagkoevert hoort, het my aan't wonder gehad. Moet ek nou in `n buitekamer gaan bly? My pa sê toe vir my ek moet buite gaan kyk. Hy het dit laas vir my gesê toe ek my eerste dunwiel trapfiets vir Kersfees gekry het. Buite gekom, kon ek my oë nie glo nie. Hier staan die rooibont speenvarkie van so paar weke gelede, alte spoggerige getooi in `n nuwe blinkgroenlyfie. En sy is myne!

Haar gesiggie het vir my vertel wat ek wou weet: Ek laaik jou nie, jy was baie hooghartig toe ons mekaar die eerste keer gesien het, en ek laaik nie hooghartige mense nie. Maar sy het niks gesê nie. Ek was met stomheid geslaan en het nie heeltemal geweet of ek nou baie bly of baie bekommerd moet lyk nie.

"Klim in!" word ek aangepor. En ek pas toe maar die slotsleuteltjie op haar blink, regte chroom handvatseltjie en swaai die deur oop. Binne lyk sy maar steeds oes. "Ons het nou nie tyd gehad om binne te fix nie" seg boet. "Ja, dis jou ma se idee gewees hierdie" seg pa. "Sy is ideaal vir jou. Ek het dit geweet die oomblik toe ek haar sien" borrel ma. En skielik betwyfel ek haar moedersinstinkte erg. Die groen was darem reg.

"Start haar" word ek weer aangepor. Waar en waarmee, wonder ek. Ek kyk die klein slotsleuteltjie in my hand so, en ek druk dié in `n gleufie in die middel van die instrumentpaneel(?) in. Draai na regs, en Prrrrrrrr.......pruttel haar enjintjie onder haar ronde neusie. Nou beginne ek opgewonde raak. Die wit leersitplekkies lyk so petit en die stuurwiel sit sommer op so `n kaal stok voor die bestuurder. Die instrumentpaneel bestaan uit `n paar after market meters uit. Daar is `n temperatuurmeter en `n oliedrukmeter. Reg in die middel van die karretjie, net bo die aansluiter, is die spoedmeter en petrolmeter. Die petrol wys kwart vol, maar ek het gou uitgevind dat dit glad nie `n weerspieëling van die waarheid is nie. Op die kaal stok waarop die stuurwiel gemonteer is, is daar een stokkie vir flikkerligte. Windveërs en ligte sit op sulke tokkelknoppies weerskante van die aansluiter aan. Die handrem is `n kaal staal handvatsel hier tussen die twee voorste sitplekke. Ek het nooit daaroor gewonder nie, maar na `n paar noue ontkomings het ek baie goed besef dat daar miskien eens op `n tyd wel plastiek of rubber om die handrem was. Paniek en adrenalien sonder brieke veroorsaak egter baie meer spierkrag en grypkrag as wat mens sou kon dink. Die sitplekkies lig sommer net so op, sonder enige spesiale meganismes en agter is daar nog `n piepklein wit bankie, amper te klein viry Bouvier wanneer sy vir haar haarsny gaan.

Ek trap die petrolpedaal...Brrrrrrrmmmmm......brul sy vir my. sy klink nogals woes vir so `n kleine, fyne dame. Ek trap die koppelaar, soek versigtig my ratte uit en vind dit heel maklik. Nou vir die wegtrek. Lig die koppelaar effens....Brrrrrrrmmmmm....los die koppelaar nog so bietjie .....BRRRRRRRRMMMMM!! en met die laaste bietjie pluk sy vorentoe soos `n pyl uit `n boog! Whoahhhh!!!!!

"Vat haar om die blok!" Ek sit haar weer in eerste rat, los die koppelaar weer versigtig en Wrrroemm! daar gaat ek, weer met so `n pluk vorentoe. Later is dit maar hoe ek weggetrek het (en meeste van my uitdagers ore aangesit het! Niemand verwag mos van `n blinkgroen 1000cc Mini om soveel pluk te hê nie!). Nietemin, daar gaat ons twee op ons eerste afspraak, net die tweetjies van ons. Ek voel-voel haar ratte en die remme moes ek bietjie meer voel-voel, so al om die blok. Tuis word ek ingewag deur drie gesigte wat skaars hul ingenomenheid en opgewondenheid kan wegsteek. Ek sluk toe maar my bedenkinge en klim uit met `n breë glimlag. Vryf my Bouvier se kop om die senuwees onder bedaring te bring en sê:

"Dankie ma, dankie pa. Dankie vir my heel eerste stelletjie wiele. Sy lyk oulik."