Die sout van Eden

Die sout van Eden

Wie kan vereenselwig met die “los my uit ek stel nie belang nie” gevoel, wanneer jy doelgerig iewers heen op pad is? Nou kyk, ek is so ‘n persoon, en as daar spanne mense staan om allerlei foefies aan my af te smeer, loop ek so ‘n wye draai om die gespuis, so al asof hulle lei aan pokke en kopluise wat my gaan bespring.

So gebeur dit toe dat ek myself in ‘n winkelsentrum bevind, heel ingedagte terwyl die roltrappe my na die boonste vlak karwei. En skielik word ek netjies in ‘n hinderlaag ingerol… ‘n Dame van portugeuse oorsprong wag my in by die bo-punt van die stel trappe. Vlugtig bedink ek ‘n twee-sekonde plan en instinktief rek ek my nek soos ‘n meerkat oor ‘n miershoop op uitkyk diens, en loer oor haar in ‘n poging om oogkontak met haar te vermy, maar voordat ek kan wegduik is sy reeds voor my, nes ‘n bledy ‘goalkeeper’ wat my uitgange blok. “Right”, dink ek – “die eerste rondte is joune, foefie-vrou”. Sy’t my vir ‘n ses geslaan met taktvolle ‘gorilla tactics’, welgedaan Evatjie…

Ek kyk toe af na die verkoopsdame en sê kortaf: “Sorry, I don’t have time”. Maar dié steur haar min aan my teësinnigheid en sluit haar hande om myne , en in dieselfde aksie begin sy my te trek na haar goedere podiumpie, so asof ek ‘n Venter sleepwaentjie is. Genade, het die vrou dan geen skaamte nie?! Ek ken haar van g’n kant af nie, en ek laat nie vreemdelinge so aan my trek nie! Magtag man, my persoonlike ruimte word binnegetree en ek protesteer soos ‘n skaap ter slagting. Sy kyk my toe heel gerus, stip in die oë en sê beleefd: “Hi, I’m Eden, please just relax, there’s no reason for you to make a scene”. Gelukkig borrel sy oor met emmers-vol vriendelikheid, en was dit net genoeg om die brombeer in my stil te hou nadat sy haarself so netjies voorgestel het. “Goed”, wel dit by my op – “tweede rondte is ook joune dametjie”. Meteens is ek uitgeboul deur die effe songebrande Barbie en my spreekwoordelike paaltjies vlieg soos dakteëls in ‘n oorweldigende rukwind weg.

Oombliklik gaan die porra poppie oor na daad en bring ‘n botteltjie doepa te voorskyn wat so ‘n helder wit glans het. Ek bekyk die bedryfie met skeptisisme aan, en my uitdrukking was seker soos dié van ‘n bosvark wat in ‘n strik trap. “Salt from the dead sea”, prewel sy self-voldaan. “This is to exfoliate your skin”, uiter sy vir my. “Nee wag, ek soek nie cosmetics nie” laat weet ek met oortuiging. “No man, these aren’t cosmetics”, skerm sy. “Nee nonsens, I can see all this stuffs here are cosmetic goeters”, roggel ek weer. En sonder verdere redekawel, pop sy die deksel af, doop ‘n teelepel in die gevrekte see se sout, en gooi die uitgeskepte affêre op my hand uit. Ek plooi my voorkop in ‘n frons en besef toe – “derde rondte, jy verloor sleg ou maat”

Skielik word die demonstrasie ‘n hengse ding . Paar mense bekyk die afspeling met my wat neul oor hoe my hande gemolesteer word. Ek moun oor tyd wat weg tik en sy probeer bo my geraas uitbulder van wat die sout nou eintlik doen. “Psssshhht, sssshhht!”, sis ‘n spuitbottel soos sy die ding vermink om my onwillekeurige kloutjies met water te besproei. “Ok, now you just rub your hands together for a bit”. Heiden! As ek my sonde nie ontsien nie… Dié perd word wel soutwater toe gesleep, maar drink wil hy nie! Maar helaas is ek klaar in die ding en is reeds die slagoffer van ‘n liederlike ‘mall demo’, ek kan maar net sowel klaar maak. Daar staan ek toe my hande en pekel… Vryf, vryf, vryf… “It lifts away all the dead cells for healty, happy hands”. Kyk, net daar toe kraak my fasade van woede en ek begin te skater soos 'n tiener hiëna. Wat wou ‘happy hands’, die vrou babbel oor snert en die oomblik is vir my te veel. Verwag sy daardie bog gaan my beursie laat oop flap? In my agt-en-twintig bestaansjare het ek nog nooit my hande afgeskilfer nie, en skielik, hier in die sentrum, is dit ‘n noodsaaklikheid. Want sien, my hande is klaarblyklik nie gelukkig nie.

Na ‘n afgedroog en verduidelik van haar kant af, vra ek toe wat die vrolike vingers my sal kos. “Six hundred rand” kom dit van haar, gevolg deur ‘n glimlaggie. “Wat?! Ses honderd bokke?” “I know right! It’s on special!” Ek skud my kop in teenstelling en sy verskerp haar aanslag. “But wait, there’s more!” O weë, ek’t reeds ‘n gly in die tipe ding, nou kom stook sy wrintiewaar verder aan my aangebrande pot. “This is the same thing, only less abrasive, and you use it for your face. And look, there is real mud in there”. Haai nooit… Modder gemeng met sout in ‘n buisie. Dis seer sekerlik die beste ding vandat two-ply toilet papier die mark getref het. Ek stap kopskuddend weg, sonder die produkkie en tree seëvierend uit die slinkse Suzie se lokval.

Net daar slaan die gedagte by my op: Ek kan vir tien rand ‘n skaflike pak Cerebos sout aanskaf en dié in grond neuk. Dan dompel ek die sout-stof in water, en voila! ‘Happy hands’ met nog vyf honderd en negentig rand in my sak. En wie sê daardie sout kom vanuit die dooie see? En maak die oorsprong werklik saak? Dit kan net sowel van PE se soutpanne verkry word. Wie besprinkel homself in elk geval soos ‘n kersfees kalkoen met speserye en dinge? Lyk ek dalk na ‘n dessitse bokkom?! En moet ek nog die ene garnale aromas aan my hande dra, net om te verseker dat hulle verheug is? Malligheid, pure waansin.En wat is dan volgende? Fantastiese, verfrissende, fantasmagoriese, vrolike voete? Ai die tye darem...