Drie Woord Uitdaging

Woord in Engels: 
Druk asb op die read more skakel om al die gedigte te kan lees
Verwysing: 
Met dank aan al die digters wat bydrae tot hierdie 3woord-dig-projek en erkenning aan Barend Steenkamp vir die idee.

DRIE WOORD UITDAGING (1): WEERGALM, BELOFTE, OPREGTHEID

Robelle: Belofte
Binne my weergalm
jou belofte van
opregtheid
en ek wéét
ek kan op jou
vertrou!
©

Fleur: Gesplete tong
Jou lippe vorm die belofte
wat my wil voer tot hoogtes
waar passie sal weergalm
en skree teen die kranse
maar jou opregtheid
is gemuilband deur ‘n
gesplete tong.
©

Rina Greeff: Letterleuens
Weer-
galm haar stem
wanhopig
in die leegtes
van 'n belofte
en meer verbreek -

sy
opregtheid
eerlikheid

net
geveins

met
leë woorde
liefie-letters
haar belieg

bedrieg
bedreig

punt?

net hy sal weet
©

Barend Steenkamp:
Soekende...

ek kyk ek soek
waar sal ek dit kry?
OPREGTHEID
lê nie rond gesaai

dan soek ek verder
na BELOFTE
en sien dit om elke hoek

maar

die smart WEERGALM
in my soekende hart
want
OPREGTHEID kon ek nie
by BELOFTE kry
©

Ma-linguis: Belofte...nie net vir nou!
Nie net vir nou
maar ook ewig aan

in alle OPREGTHEID
nooit sal verbygaan

jou innige BELOFTE
daardie dag aan my

dat jou troue liefde
immer myne sal bly

dat die hele wêreld
daarvan kan weet

dat jy in jou hart
my nooit sal vergeet

toe kom die tyding...
jou woord nie gehou

my trane ’n rivier...
WEERGALM my berou

oor berge en heuwels
gebroke oor jou...!

©29/08/2010 Joan Lotz

Koekekranka: Heimwee
Die opregtheid van jou belofte as jeugvriendin
om kuis vir my te wag
weergalm nog steeds in die gange van my hart -
word eggo’s in die nag;
seermaak-verlange wat altyd weer van voor begin..
©

ammiemoon: Jy eer my
Jy wat my uit ver uithoeke lok,
jou den
vol mos en woud en 'n nonnetjieuil se roep
met 'n volmaan wat drup van afwagting
en profesie,

waar jy my kroon en sier met lourier
en olyfolie aan my enkels smeer.
Daar WEERGALM jou minnelied teen die
klipskeure en klam rotswande van ons
geheime trou BELOFTE.

Jy wat my maagdelikheid eer en jou
swaard glimmend voor my voete lê,
in OPREGTHEID jou ridders-eed op papirus
grif en seel met bloed -

......vir jou gee ek 'n aronskelk uit my tuin
geklam met die soet geur van middernag.

© 2010 Almarie Truter

MCE: driewoord-ontnugtering
jou vier-woordbelofte
het soos baie sonne
aan my helder hemel
gehang
die opregtheid van
"ek het jou lief"
het met jubeling
simfonies
al die ruimtes van
my ganse lewe gevul
- nou weergalm
slegs ontnugtering
ongekomponeerd
en vals gesing
terwyl die sekelmaan
skewebek
teen die donker einders
hang
en elke nuwe dag
'n nuwe geheim onthul
©

Henry Luyt: Jou belofte
My hart smag
na 'n belofte van jou
en in jou opregtheid
weergalm jou roep
deur die vallei:
'ek is lief vir jou!'

© Henry Luyt

Stelliepel: By die herdenking van ‘n huwelik
As jou belofte
“tot die dood ons skei”
in my ore weergalm
dan twyfel ek nie vir
‘n oomblik aan die
opregtheid daarvan nie,

want deur moeilike tye heen
kon ons op mekaar steun.
Die skaafwerk aan mekaar
het ons
EEN
gemaak in geloof -
in God
en in onsself.

Ons geluk het
ons met mekaar
gedeel
en nie toegelaat
dat derde partye dit
steel.

Ons rykdom lê nie
opgesluit in ons huis
of die motors daar buite,
maar in ons kinders
en
hulle spruite.

Kyk ek terug
dan besef ek –
jy maak my
volkome gelukkig.
©

DRIE WOORD UITDAGING (2): BEGEERTE, DIEPTE, PREWEL

Robelle: Dis nie ek nie
Ek het ‘n groot BEGEERTE
gehad, om uit die DIEPTE
van van wese, vir jou
die beste aand van
jou lewe te gee
maar toe! Op die
‘cruitial’ oomblik
PREWEL jy:
“O! Sannie!”

MY naam is beslis
nie Sannie nie!
©

Barend Steenkamp: Judas
Met diepste begeerte
en geen diepte nie
laat dit mense prewel
“Vader vergeef hom,
want hy weet nie wat hy doen nie”
©

Ma-linguis: Diep verlange
Jou woorde bekoor
my keer op keer

ek luister aandagtig
jy sê dit weer en weer

my hart mis ‘n slag
dit bokspring...ek wag

dan hoor ek jou stem
weet ek jou oë lag

kan die emosie
diep in my voel klop

wilde sensasie wat
ek nie kan stop

BEGEERTE na jou
verswymel my gang

weet ek dis jy
na wie ek so verlang

uit die DIEPTE van
my wese, ’n belewenis

ek PREWEL jou naam,
besef die groot gemis.

ek het jou so lief
dat dit amper seer is.

©30/08/2010 Joan Lotz

Ma-linguis: Latente Begeerte
Jou oë vertel my van liefde
passievol, dringend...

jou lippe soet soos heuning
op myne, dwingend...

jy PREWEL woorde sag in my oor
dis waarna ek verlang

latente BEGEERTE in my ontstaan
intens, dit maak my bang

kan die DIEPTE daarvan nie peil,
onrusbarend is sy gang

soos eb en vloed van die gety
vloei emosies deur my lyf

hartstog so sensueel, diep
sal my tot raserny dryf

ek gee oor aan die warm gevoel
wat deur my are ruis

inniger, vreugdevol is die gloed
van liefde wat binne my bruis.

©02/09/2010 Joan Lotz

Ma-linguis: My watertand begeerte.
My mond die water aanmekaar
dit wil ook nie sommer bedaar
ek sien jou heeltyd voor my oë
ek raak skielik weer diep bewoë

ek probeer jou heeldag al vermy
maar kan jou nie uit my kop kry
ek PREWEL jou naam sonder mag
in my drome sien ek jou daar wag

my BEGEERTE na jou is so erg
sal my diepste konsentrasie verg
jy hou my verstand aan die roer
om ’n in DIEPTE gesprek te voer

hoe om jou uit my gedagtes te kry
voor ek iewers aan die pen gaan ry
my weerstand is maar uiters swak
ek sien die vetjies op my lyf toesak

so... my liewe sjokoladetjie ek vra
as ek jou stadig eet, gaan dit nie pla
maar aan my lyf gaan jy nie werk
ek hou my dan die hele week al sterk!

©29/08/2010 Joan Lotz

PerskeWang: Ek vra mooi
BEGEERTE
en DIEPTE
het rêrig niks te doen
met lengte
maar hoor ek oom PREWEL
ag jirrietjie tog
net hierie
een
keer
nog!
©

MCE: Verskrikte begeerte
die vryer is oppad
by die kerkhof verby
in die diepte
van die donker nag
hoor hy die meisiespook
prewel
"gaat my nie verby" ...
skrik hy hom vrek
struikel oor 'n graf
- en dis die laaste sien
van begeerte ....!
©

Stelliepel: Drank is ‘n euwel
Vir jare het die
ou tannie
probeer uitvind
wie die vrou is
op wie haar
man
maandeliks sy
salaris spandeer.

Eers die dag met
hul 50ste
huweliksherdenking
kon sy hond haaraf
maak toe die
ou oom opstaan,
‘n sluk uit die
brandewynbottel
wegslaan
en prewel:

“My liefste, jy wat
elke brandende
begeerte in my ken...
jou liefde meet ‘n
mens nie in terme
van seks nie,
maar in terme
van jou diepte.”
©

Gypsy: Jy...my begeerte
Jy...net jy
vir altyd my
enigste begeerte
om in die diepte
van jou onversadigde
liefde te verdrink
totdat ons dae
verganklik raak
ons voetspore in
die niet verdwyn
..tot dan...
prewel ek ...
oor en oor
jou naam!

©31.08.2010 JeanetteJ

Henry Luyt: Ek Wou Prewel Maar…
Heeldag draai my gedagtes
oor die DIEPTE van my gevoel
wat ek intens oor jou koester.

Ek het vandag na jou oorgekom
om saggies in jou oor te PREWEL
hoe ek werklik nou oor jou voel.

Maar toe ek my buurman daar kry
het my BEGEERTE van koers verander…
Dié dat ons nou in die hospitaal vry.

© Henry Luyt 01/09/2010

DRIE WOORD UITDAGING (3): PRYS, SKROOM, BITTERHEID

ammiemoon:
As ek smeulsag teen jou vlei,
my vingerpunte nagsoensoel oor jou ruglyn spoel,
sou jy dan my intensies kon raai
wat vir 'n uitverkore PRYS blikaspaai teen
jou hartklop speel, dat ek saam met geen ander
hierdie gleuf in tyd wil deel ?

Sou jy kon lees die onuitgesproke woorde
wat sonder SKROOM soos dagvlinders in my
donker poele sweef,
dat ek te midde van elke dag se woel en werskaf
nêrens anders as net hier by jou wil wees ?

As ek middernagstil my wil in jou dowe oor
fluister, sou jy kon leer om met jou hart te luister,
te hoor hoe verlede BITTERHEID van my lyf af skeur
as ek my in die armholte van jou vrede begewe ?

...want by jou proe ek lewe.

© 2010 Almarie Truter

Robelle: Jy, my groot prys!
Jy het die BITTERHEID,
die seer, help heel
jy SKROOM nie om jou
gevoelens te deel,
as jy my so liggies soen,
vashou en terg,
terwyl ons die sonsondergang
bewonder agter die berg ...
by ‘n flikkerende kers vir my
liefdes versies lees,
die lekkerte om net so rustig
saam te wees,
as ek die woorde lees wat jy
vir my neerpen
weet ek, ek het die grootste
PRYS ter wêreld gewen
©

Louw:
sonder skroom
het jy jou ontbloot
oor my gewieg
my bekoor

ons was verbind
my diep in jou verslind
in note is jy betaal
was dit tog maar die prys

nou in die hospitaalbed
met die gevolge van ʼn ou verhaal
was jy maar net ʼn slet
sou bitterheid my kon red
©

Stelliepel: Kupido kon nie korrel nie

Die bitterheid wat
in my binneste
opstoot is genoeg
om van naar te word.

As Eros ‘n waardasie
van my hart moet doen
sal hy nie skroom om my
bankrot te verklaar nie,

want

ek het ‘n duur prys betaal vir my
Te onnosel om
Raak te sien dat
Ons
Twee
Saam hoort
©

Christal: Tranetrekker:
Jou ontrouheid het my vermink.
Die bitterheid in my hart,
brand my siel tot as
wat ek nooit weer sal kan optel nie.

Jy sê jy is jammer!
Die blonde kat het jou van my gesteel.
Ek sal nie skroom om jou te laat gaan nie,
die prys van ontrouheid is ’n egskeiding groot.

CMT©
30 Aug. 10

DRIE WOORD UITDAGING (4): LENTE, ROMANSE, FEES

Robelle: Romanse, Aliens en 'n kommervrye dag!
Vrolik huppel ons oor die veld
tussen kosmosse en gras
ek kry skoenlappers in my maag
toe jy my met ‘n soen verras
voëltjies maak nes, dis LENTE,
ROMANSE is in die lug,
ons lag vir ‘n duif wat kans sien
om sommer te vry in vlug,
ons lê en bekyk die wolke
en maak stories op,
van kabouters en feetjies
wat wolksakkies volstop,
van aliens en ‘n ruimtetuig
wat blink in die son
en ons met ‘n straal opsuig
en ons ver bo die aarde laat sweef
en ons harte met
alien goue drade aanmekaar weef
vir ons, was die dag saam ‘n FEES
om net so, kommervry, in mekaar
se geselskap te wees.
©

Louw: haar naam is Lente
ek voel dit aan my lyf
hy kriewel en hy juig
die hutte in die lug
laat my gesig gloei
en hou romanse met my murg

op die grond krioel die wêreld
goggatjies knipoog hulle eerste lewe
êrens wil ʼn padda sy klank uit roggel
voëltjies vang al van vroeg af die wurmpies
die reënvoël roep hard na die fees

wit rooi blou en groen
wys gate in die winter trui
die reuk van jasmyn vermeng
met gister vandag en more se geur
fluister jou naam, Lente
©

Stelliepel: Jy’s die manlike vergestalting van Persephone
Wanneer die lente kop uitsteek
en die winter se dorheid breek
slaan jou bladwisselende romanse
opnuut my voete onder my uit.

As ek jou Legacy ruik,
jou nektarsoet lippe proe,
jou lyf teen myne voel,
hoor hoe jy my naam noem,
jou nr. op my foon sien flikker, dan
weet ek ons is vir mekaar bedoel.

Jy laat my glo
lente is liefde
en
die lewe ‘n fees
en
in jou arms
is die plek
waar ek wil wees.
©

Christal: Lente in my tuin
Ons eerste lente bloeisels loer skamerig.
Met rooidagbreek ontwaak die voëltjies.
Op die grasperk by die boom staan hul kosbak
reeds gevul met vars vrugte en sade.

Fladdervlerk duik hulle af
vere verf kleurspieëlstrepies in die son
hul kwetter en kraak die snawels,
terwyl hulle die kos geniet-
voorwaar ’n fees.

Op die dounat grasperk begin
die mannetjies se romanse.
Pronkend pof hulle vere in die
koel briese, vlerksleep toi-toi
met romantiese paringspassies.

Dié vrolikheid van nuwe lewe,
romanse in die lug word gevier.
Hulle koer.... dis lente, dis lente,
dis lente!

CMT.©
03September 2010

(*B0 18 BYDRAE) DRIE WOORD UITDAGING (5): RESUSSITEER, SMAGTING, PRIKKEL

Robelle: Prikkelende gedagtes
Jou aanraking
RESUSSITEER die
SMAGTING
na iets veel meer
as net ‘n soen.
Jy PRIKKEL
gedagtes, wat veel
meer is, as wat
jy doen.
©

Stelliepel: Sensasionele sensasie
As die top van jou vingerpunte
af beweeg langs my ruggraat
is dit asof jy ‘n sensoriese
prikkel in my medulla inlaat
wat my ovaria motories prikkel
om hierdie maand weer
‘n ovum vry te stel sodat
ons opnuut kan probeer

om ‘n fetus te verwek
wat kompleet op ons trek.

My smagting na jou innige
liefde word vervul wanneer
jy my penetreer en plesier
my tepels resussiteer
nes die neuro-oordragstof
dopamien vrygestel word.
©

Ma-linguis: Sensoriese prikkeling
Is dit moontlik, dat in dié nag
ek nie doen wat jy sou verwag
die mees algemene manier
om jou in liefde te plesier

ek glo jy gaan verras wees
ek kan dit op jou gesig lees
hartstog gloei hier binne my
warm, as ek teen jou aanvly

jy moet net totaal ontspan
gedagtes by my, as jy kan
verbeel jou jy’s op ’n eiland
voel die warmte in my brand

diep sensoriese SMAGTING
net soos ’n lam ter slagting
gaan ek jou verlei, PRIKKEL
jou lyf sensueel toewikkel

jou van kop tot tone masseer
sal jou ook kan RESUSSITEER
indien jy in ’n beswyming gaan
jy nie my kurwes kan weerstaan

deur magiese krag sal jy herleef
die liefde wat ons inmekaar weef
met verrukking die realiteit voel
wat sensasioneel deur jou spoel.

©03/09/2010 Joan Lotz

Christal: Volmaan romanse
Op die grasperk _
in die teenswoordigheid van
die volmaan en sterre het jy
my liggies aangeraak, met jou vingers
deur my hare gespeel en my
met SMAGTING gesoen.
’n Ligte PRIKKEL het langs my ruggraat af beweeg.
Ek herleef dieselfde gevoel toe ons
RESUSSITEER tot ons siele smeulend
in die melkweg ontmoet.

CMT.©
2010-09-05

DRIE WOORD UITDAGING (6): WEERSTAND, SAGTHEID, KOESTER

Ma-linguis: Ritmes van die lyf
My voete bied geen WEERSTAND
daar’s verwoede ritme in jou lyf
grasieus, neem jy my by die hand
word deur sagte musiek aangedryf

swierig, swaai ons oor die blink vloer
passies perfek, swyend ons dans
melodieus, kunstig, volmaak uitgevoer
betowering in elke oomblik verskans

sien jou skalkse glimlag... oë wat loer
jy hou my teen jou vas, in liefde ontroer
KOESTER dit liefderik, sag... blosend
’n stonde SAGTHEID, warm, blywend

die aarde vier FEES, dis nou liefdestyd
LENTE sprei kleure oor die wêreld wyd
ons onder die sterre, liefdesritme regeer
ROMANSE is in die lug, wie kan dit keer.

©04/09/2010 Joan Lotz

Ma-linguis: In liefde gekoester
sleepvoetend gaan
die dae verby

my wêreld sonder jou
alleen uurliks omstry

elke oomblik in 'n
ewigheid verdwaal

verlange na jou... wil
happe uit my hart haal

jou liefde die crux
van my ewige bestaan

jou nabyheid steun
my om sterk te staan

ek lewe volkome
van ganser harte vir jou

hartstog, sagstrelend...
vol teerheid omvou

my wese, jou hande in
SAGTHEIDsaanraking...

ontbrand emosie vure
skep liefdesontwaking

geen WEERSTAND kan
bestaan in sensualiteit

soos nektar drink ek
volle liefdessinnigheid

KOESTER met oorgawe
komplete liefdeservaring

as jy hier by my is, leef
volkome hartsvervulling.

© 04/09/2010 Joan Lotz

Barend Steenkamp: Ingrid
Dit is die SAGTHEID
die mooiheid
in jou woorde,
die beeld van jou
wat ek daarom bou,
wat my jou laat KOESTER

maar dan kom
die WEERSTAND -
waarom soos Ingrid
jou kans af wag?
©

Annie: moederliefde
haar weerstand verkrummel soos korrels kaf,
skepelsvol teen die wind in gestrooi,
wanneer hy sy nat, swart neusie snuiwend
teen haar vasdruk en kleinhondjiefyn tjank,
hom opkrul in die sagtheid van haar pels
en haar koester liefdevol om hom vou.
©

Noddie0315: Redding
Met verwronge weerstand
wou my hart vasskop
teen die sagtheid
waarmee joune warmte klop

maar tog het jy
aangehou, sonder ophou,

totdat ek ook sagter
kon word en weer
liefde kon koester
wat nou deur my ook pomp
©

Robelle: My liefde
My hart
kan geen WEERSTAND bied
teen die SAGTHEID
van jou lyf
en KOESTER
gevoelens van liefde
vir jou …
©

Stelliepel: Dis hoe ek jou sal onthou
Ek mis die
sagtheid
van jou skoot,

jou hande wat
‘n mens omvou
en styf teen
jou bors vashou,

jou onmeetbare
sterkte wat lê in
jou vermoë om aan
my weerstand te
bied teen gevaar
die kere wanneer
moeilikheid my
in die gesig staar.

Moeder,
ek koester jou
merkwaardigheid
as vrou.
©

Christal: My liefde
KOESTER my liefde asseblief
moenie WEERSTAND bied
jou SAGTHEID,
besing ek met ’n lied.

CMT.©
2010-09-07

DRIE WOORD UITDAGING (7): BRING, HUNKER, BEHOEFTE

Robelle: My siel hunker
My wese HUNKER
na jou nabyheid,
jy vul elke
BEHOEFTE
van my siel,
jou liefde BRING
sonskyn in my
lewe …
wat tot my hart
deur dring ...
©

Annie: 'n Ster wink daar ver
ek bring vir jou 'n kruiebossie
in perskeheuning gedoop,
jou behoefte aan soetigheid
te les met sonskynstroop,
en hunker ons na 'n ster daar ver
dan gaan ons dwarsdeur die melkweg loop.
©

Ma-linguis: Hunkering
Blommetjies roep luid
daar is groot dors
plantjies breek moeilik
deur die droë aardkors
die veld HUNKER na
die vroeë somereën
daar is BEHOEFTE vir
groei met volle seën
hoop op nuwe lewe
wat die waters BRING
hoop om in kleureprag
geurryk die son te besing.

07/09/2010 Joan Lotz

Koekekranka: Skisofreniese liefde?
Nimfomanies trap jy die spoor
van maanligaand se laatnag-vuur
wat kolskoot tref: Perfek-sekuur!
En ek, (Met selibate –smag!)
veg mot-om-die-kers om dié krag,
dié smagting, Hunker te versmoor!

Dog: Die Behoefte aan jou vel;
jou mond teen myne vasgeknel
Bring aan die luste. Oor… en oor…!
©

Christal: Ons hunkering
My siel hunker:
bring
hunker
behoefte

BRING jou liefde,
my siel HUNKER na jou.
Ons voel albei die BEHOEFTE
om saam te wees.

CMT.©
2010-09-07

Zymrly: Verskillende stasies
HUNKER het met
BEHOEFTE na bevrediging
geskree en daarna BRING
dit vrede mee.

Maar my hunkering is nie jou behoefte nie.
- Jou vrede nie my bevrediging nie.

© Christo du Plessis 2010

DRIE WOORD UITDAGING (8): BLUS, SENSUELE, BEWUS

Robelle: Blus my vuur
BLUS die vuur
hier in my hart,
neem weg die seer
die SENSUELE
gedagtes wat my
gedurig tart!
die begeerte om
jou teen my vas
te druk,
dit is die emosies
wat my hart
uit ruk!
altyd BEWUS
van jou
teenwoordigheid,
jou behoeftes
verlange en soms
jou stuitigheid!
©

Christal: Nes vroue is
BEWUS van jou SENSUELE gekafoefel,
verras ek jou-
deur jou guitige vuurtjie te BLUS,
net voordat die dak afbrand.

CMT©
2010-09-08

Ma-linguis: Die kersie op die koek
Jy sit reg oorkant my
diepdenkend en staar

probeer jou aandag kry
dis asof jy niks gewaar

is jy BEWUS ons is saam
jou oë bly stip op my gerig

wat hou jou so bevange
jy ken elke lyn op my gesig

skielik, kom dié nooi verby
SENSUEEL, beweeg haar lyf

loer koketterig, speels na jou
dis toe dat jy weer lewe kry

my BLUS is uit toe ek sien
hoe jou nek byna uit lid ruk

toe die kersie op die koek...
jy't sowaar in jou koffie verstik!

©08/09/2010 Joan Lotz