Ekphrasis - Digkuns geïnspireer deur kunswerke.

Woord in Engels: 
Met dank aan Mel vir die beskrywende 'prentjie woorde voorstel'. Druk asb op die 'read more' skakel vir meer omtrent
Verwysing: 
*Die skrywers gee elkeen sy/haar eie beskrywing na aanleiding van 'n geplaasde foto/kunswerk.

Meraai vannie baai: Ekphrasis kom voor wanneer een soort kunsvorm 'n ander beskryf, soos byvoorbeeld as skrywers 'n foto/kuns of beeldhouwerk bestudeer en elkeen beskryf wat hy of sy ervaar. Hier kan al vyf die sintuie ingespan word.

"Poetry and Art together, performing a Duet"

Vir 'n baie mooi uiteensetting en nog voorbeelde kan die skrywers wat belangstel, deur hierdie erwe gaan dwaal:

http://www.ekphrasticexpressions.com/
http://www.puddinghouse.com/ekphrastic.htm

Foto: http://www.woesblog.com/ekphrasis-1
Mel:

Kleurblind

Dit is so ooglopend

dat jou interpretasie

verstrengel

met jou nuanses
van pigmentasie

(oor wie ek regtig is…)
©

Aspoesterjie:

Onvoldoende gesmag..
na wat?
vaal verlange..
na wie?
Eentonige gesoek..
alleen.
Kleurlose alleenheid
in sielevenster.

Dan kom jy
met jou sak vol kleur.
Trek gordyne oop
en verfraai my siel.
Kwas en lood
verjaag vaal eentonigheid.
Liefdevolle lewenskleure
verban alleenheid.

Onvervulde gesmag..
waar?
Vaal verlange..
nie meer.
Eentonige gesoek..
verby.
Kleurlose alleenheid..
toegeverf.
©

Juenka:

naak op ‘n staal tafel
lewensloos
skoon gewas
vir die doods tas

nou maar net ‘n stuk vleis
siel al twee dae terug geëis
op die pad se grys

oë koud en verdof
van die dood se bedrog
liggaam waggend
vir die afskeidings dag

maar

ver van die funeral parlour
sit daar ‘n klein skare
en gesels in herinnering
oor hulle verlore vriendin

daar word stories gedeel
oor die lief en die leed

en

stadig maar seker
begin hulle inkleur
en gee die dowwe oë
lewe weer
vir ‘n laaste keer
©

Trapsoetjie:

Verraderlike oog

Soekend
Om deur die dae te dwaal
Misleidend
Praat in kodetaal

Verlangend
Roepend na drome
Tergend
Ingekleurde strome

Voorgee
Om alles vals in te kleur
Hartseer
Deur twee kleure te treur

Blinkoog
Valse beloftes
Knipoog
My katoog prinses.
©

Naas:

Stetoskoop in dokters oor,
masjien wat ekstra kyk.
Trek toekomslyne om en om.
Maak leë prentjie
wat alles kleurloos bleek laat lyk.

Dit kos ware en opregte vriende
om met kruite van omgee
strepies kleure op en af
inhoud te voorsien
en toekoms sin te gee.
©

Len Kriel:

Jaloers

Deur die sleutelgat
van die deur na jou hart
staan ek onopgemerk en loer

Verlange brand swart deur my
en ek ruk, terwyl ‘n sout druppel
na benede sweef

Kompleet vul ‘n ander
jou bestaan

Stadig kleur my loeroog groen
©

Annie:

Ek wil uitstyg bo die gemiddelde
sukkel om die rigting vas te vat,
die lewensstrome hier om my
verraai verdeeldheid, [wat is nuut?]
Met potlood magtig lees ek my weg
en sien die voetpaadjie skoon gespoel
met trane van onskuld wat laat groei
die groenste skepping vol woorde
wat ons liefde laat uitstyg, hemelhoog.
©

Antjie:

Ongelooflik perfek
Asemrowend volmaak
Sjokoladebruin uitbundig, is jy gek?
Verspot opgewonde, maak dit eerder toffieappel-groen na smaak!
Raak stil, ogies nou toe...
Vader, vir U is ons nooit taboe
Soos U wil is ons geskape
Ongelooflik perfek, wangetjies soos granate
©

bertha badprop:

my slykgroes swart-moeras

jy kleur my siel in
met die palet van jou tong
bring kontraste en skaduwee
mure skeef, hoeke krom

jy kleur my hart in
in sagte dons pastel
en na jy hom uitgeruk het
verklaar jy my jou beste pel

jy kleur die traan in my oog
na slyk-groen en swart moeras
en lis my alleen, soekend
so asof ek altyd verlore was
©

Foto: http://www.woesblog.com/ekphrasis-2

Mel:

Kragopwekker

Waar die samelewing hul chemiese mens-acid in my bestaan
implementeer

makeer ek 'n volhoubare energiebron

Die sonsel van my lewe
is ontneem

En ek kompliseer
die atomiese werking
sonder fotone van lig

Ek is gebore
sonder krag
©

Trapsoetjie:
http://www.woesblog.com/ekphrasis-2

Klopper tikker

Klopper tikker werk nie meer
Want alles binne my is seer
Klopper tikker ruk deur die ruit
My storie kom met geen fluit

Met smekende oë wat in die niet staar
Het ek jou met trane die groot vraag gevra
Wat het jy met my hart gemaak?
Kan jy nie sien hoe dit aan my batterye raak?

Sal jy terug kom, my hart herlaai
Sonder hom is my lewe saai
Met vreugte gevul
Staar ek laggend na die hele spul

Rukkend begin hy weer klop
Duracell het geen stop
Nou sal ek verewig klop
Al sê die horlosie stop – stop!
©

Foto: http://www.woesblog.com/ekphrasis-3

Trapsoetjie: Ons het hoop!

Braak drup
magteloosheid kruip
nuttelose wraak
niks staak
onskuld smeek
voor traan gevulde oë breek

Vlamme krul
mense gil
geboue val

Wolwe hou die hele spul dop!
Breek vryheid

Dansende vreugde
van helder kleur
kinder geluk
is nog te vind

met die laaste dae
staan daar nog die ware hoop
en so baie vrae,
maar dis nie te koop.

Dis gratis te kry!
Teen alles is daar altyd die jong mens
in jou wat uitroep na die vreugte van
vry wees in ‘n lieflike wêreld
met geen geweld

Ek sien die paradys!
©

Mel:

Apokalupto

Die laaste van die sewe seëls breek

En my maagdelikheid smeek

vir 'n laaste
kans

Maar die nag
kom nader
gehardloop

vir 'n
dwaalmaat

terwyl die inskripsie
op 'n boekrol
skree:

"te laat!"

Die wierook styg
en Patmos lê verlate
©

Antjie:
Liefling kleinding so broos
Kristal helder en wonderskoon’
Onskuldig gewas in silwer van ouds
Uit die tuin van Eden, ‘n blaar hemelgroen
Met die heuning van reen, in ‘n druppel bedou.
Daarin my lieflings-kind, is jy veilig toegevou
©

Blikkies:
Visioen van my siel

Huiwerend stap my siel
met pynigende verdriet
en betree 'n lewe
wat deur tyd oorrompel is.

Alles is stil;
Asof die stilte gewyd is...

Die lug en aarde wag;
Asemloos...

My siel beweeg tussen mens
en dier — wat lankal dood is.

Stilte...

Net die stilte lewe...

Van 'n dooie siellose wêreld
— het alles gesterf.
©

McF: Die slotvers van dood (Haikoe) Expressis digkuns ( 3 )

*Opvolg op Blikkies se gedig (Visioen van my siel) met toestemming.

1.

Allenigstap ek...
en betree ʼn lewe wat
deur tyd verwoes is.

2.

Stilte word die angs,
hartseer en magtelose
verlange na iets.

3.

Nie na iets bepaald
maar na ʼn hele wêreld
geblus tot swart as.

4.

Ek hoor geluide,
stemme van lang geleë...
die slotvers van dood.
©

Michelize: Ekphrasis 3
en buite draai die duiwel rond
grommend grim te snuiwe aan verwoeste droom
in stof en as vertrap, verpulver, wees te laat tot enkele vroom
gedagte agterlaat:

my sonkind jy wat wel kon wees
my blom, my sprankel meisiekind
‘n ruiker kleur in monotoon van seer gemoed vir my geleen,
‘n oomblik te vergoed vir elke vrees gedagte…

maar dan verydel, verduister
my wêreld steeds verpletter
die landskap van my siel ‘n vaalgrys, pyndeurdrenkte ashoop
van wanhoop; omgedolwe deur vernietigende storm
ongenooid
ongevraagd
gekom te steel, slag, verwoes
die verfoeilike oes kom eis, die agteraf daad verrys weer
deur newels van treur deurdrenkte smaad.

my God, my God, waarom het U my verlaat?
©

http://www.woesblog.com/ekphrasis-4 (Foto geplaas deur Juenka)

McF:
Nag verraad met rooi blomme.

Ek weet dat ek moet huil,
dat rou snikke uit my bors moet skeur
maar bly bewegingloos staan
en staar en staar na die verraad..

Flitsend is die yl herinnering,
dis my huweliksnag hierdie...

Hierdie oomblik van pyn
dring binne-in my,
waar dit soos 'n magtige wolk oopsprei.

Ek wil gil totdat
die sterre na benede tuimel.

Vader in die Hemel!
is dit bloot 'n fokusbeeld
uit 'n projeksielens.

– of –

is dit die verraad
van die nag, met rooi blomme?
©

Trapsoetjie:
Gebroke in die koring lande

Vandag het jy my hart gebreek.
Ek het vir jou liefde gesmeek,
net om te hoor jy het dit vir ‘n ander gegee.
In die verte staan ek met niks om my trane aftevee.

Met die selfde geluk sou ek wat wou gee
om in jou liefdes geluk te tree.
In die koringvelde
sien mens liefde selde.

Soos ‘n masjien moet ek my self optel,
en aan die wêreld die lieg storie vertel
dat dit nie vir my saak maak nie,
dat dit wat jy doen my nie aanraak nie.

My trane huil ek van binne.
My gedig het geen sinne,
want liefde het geblom in die koring lande,
en ek bly in verte staande.
©

Naas:
Ek, Robot

Positroniese brein
Vasgevang in vel van blik
Werk klinies suiers
Arms en bene van staal.
Geen bloed wat sirkuleer
Harteloos

Positroniese brein
Se logika het geen sin
Te maak uit vleesorgaan
Gevoelloos hang uit
Meganies hand.

Glaslens oë staar
Oor waaiend koringland
Na vlees en bloed
Se samekoms
In gevoelvolle omhelsing.

Glaslens oë sien
Maar logika het geen sin
Om liefdevolle uiting
Van hartsgevoelens
Te verwerk

Ek, Robot
Staan verstar
In poging om gevoelens
Van vleesorgane
In koringland
Te verstaan.
©

Mel:
Verwelkte gistersgesig

Ek sal jou groet
by jou wegdraai

bloedemosies
wat rondwaai

Waar jy kalfskeef
wankelrig
begin leef

Ek sal jou onthou
en ontmoet die berou

in die donkerte
van my alleenwees

waar ek ons lewenstorie
vir my kinders
sal lees

Ek pak vir jou die padkos
wat jou verlange
hier by ons
kan
agterlos

En ons besluit om te skei

maak jou sielsspogings
verlossend
vry

Jy vat haar hand en glimlag
en ons gister

verbrand
©

*Die volgende bydrae het 'n woes-geskiedenis:
"Ek weet hierdie gaan die twee siele oor die afstand tot in ewigheid bind, want een sal altyd onthou wat uit haar hande geblom het, en die ander sal altyd, wanneer sy na die besondere skildery kyk, aan die ander dink. Dit is nog een van daardie WOW stories wat kleur soos osbloed, en brinjal, en dieppienk en mosgroen en sjokoladebruin aan die kleur van enige mens se dag gee!!
Zadu xx"

Foto van skildery pronk op die voorblad van die Woesskrywer: Sussa

Sussa: Die painting
Bytekant die hekkie staan ou Lucky
In sy hande hou hy 'n grote pucky
En dit maak my hart soe bly!
Wiet djy hoe lank gaat hy
mit daai pakkie Kaap toe ry?

Met die hand geskiller,
Nei, nie die mond…..
Vi' 'n tiekie en 'n pond!
Gakoep en kla' petaal:
Al daai dollars ytgehaal!

En sy wag daar anne'kant
Met haar oge oppie strand
Vi' die lorrie om te stop ...

dan hang sy ha' mooi painting op!
en ek? ek hou die posman dop!
©

Zadu: Die painting (2)
In die Kaap van storms wag die vrou
opgewonde en in spanning vir die nuwe skildery,
vreugdelose kamer reeds herskep, sjiek voorberei;

geen meer seer gespartel, opgehou met rou,
tyd om van vooraf ‘n nuwe lewe te bou,
einde te maak aan swye en kleurloosheid,
te ontsnap uit die doodse sirkel van onsigbaarheid;

die boodskap kom: Lucky het die pakkie!
daar ry hy nou, hy sal mooi daarna kyk in sy bakkie,
“dit moet in een stuk uitkom by die Kaapse vrou!”
almal worry verniet, lag hy in sy mou;

net anderkant Bronkhorstspruit begin hy dink
hoe lyk hierdie skildery, waaroor gaan die benoud?
stop en beskou die pakkie, nuuskierig soos ‘n kind,
maar dis te toegewikkel met papier, ‘n hele woud!

die afsender het vertel sy skilder met ‘n kwas,
die ander een met haar siel woorde op papier,
- is woorde skilder met die siel ‘n nuwe gier?

hy sal maar sien as hy in die Kaap aankom
miskien verduidelik die sieleskilder dit aan hom.
©
Ya'acov:
Kan ek ook die painting sien
ook met my oog deurpriem
wat is daar geskilder
is die medium ook nog wilder

wys nou my tog gou
sal ek daarvan hou
kan ek kyk en sien en lees
en dan skree en juig tot hees?
©

Foto: http://www.woesblog.com/ekphrasis-5-0
Juenka skryf: As gevolg van Willem se email ontvang hierdie week wil ek net die volgende bevestig. Al die foto manipulasies wat ek op die blog plaas is gedoen met stock prentjies van Deviantart af en dit is ook foto's wat ek self geneem het. Die stock prentjies is beskikbaar vir die publiek juis vir manipulasie. Geen kopiereg word misbruik nie.

Die manipulasies word ook deur my geplaas en julle het toestemming van my af om dit op woes saam met julle werk te plaas. Let wel dit kan net vir woes gebruik word. Kontak my gerus indien julle dit buite woes wil gebruik.

Trapsoetjie:
Luister

Soet van die vrug
wil my wurg.
Vals is die woord.
Reuk van die appel boord.

Kan jy my nie hoor nie!
Help my!
Die wêreld lyk soet,
maar dis vol roet

Ek roep so hard!
Van al die ongespreekte smart.
Moet ek altyd vir jou dade boet!
Wag! Voor jy groet!

Ek skree met geen klank!
Daar is ‘n vrot stank.
Moet my nie weer seer maak nie.
Verstaan jy dan nie die saak nie.

Ek is vasgevang in die oog.
Bring vir my asseblief tog ‘n mooi rëenboog.
Vat my hand en hoor,
bring nader jou luister oor

En luister;
na my stille fluister;
veg vir dit wat saak maak!
Want jy het diep aan my hart geraak!
©

Erna Jo: Appel van My oog

Ek kyk verby die vlees
diepers selfs as pit en stronk
waar siel en gees verweef
waar elkeen agter grendels leef
- selfgemaakte kerkerdeur -
om net soms, net soms
die deure oop te gooi
My dan dringend in te nooi:
Here help! Ek staan
alleen
die appel het ook my verrot
want ek het van die vrug geeet
my gewete weggeredeneer
ek het myself geisoleer
Here help
ek kan nie meer...

Ek was nog altyd hier,
het jare lank geklop, geklop
en geduldig net vir jou gewag
as Ek nou na jou kern kom
vee Ek jou wange droog
want weet jy nie
My liefste kind
jy is nog steeds
die appel van my oog!
©

EKPHRASIS OOR YA'ACOV SE GEPLAASDE FOTO'S IN DIE FORUM:
http://www.woesblog.com/forum/index.php?topic=1598.150

Willa:
Gister en Vandag

Mis en son begroet my wang,
hierdie dag se onheil bang.
Wie sluip daar in die stilte;
wat kom doen jy in die hitte?

Gister en vandag ry saam
met ronde wiele wat skaam
oor die pad aan rol terwyl dit grom;
oor dit en dat wat die lewe so brom.

Verward sien ek jou oë my woorde lees,
wat is nou eintlik haar idees?
Kyk maar mooi dan sien jy saam -
gister en vandag in die foto raam!

© Willa Potgieter-Huang

McF:
Ya'acov hierdie gedig pas by jou foto van die brug en die bootjie.

DROEFENIS

Op ʼn ruwe rotsklip
soos voorletters uitgebeitel
staan geskryf: DROEFENIS

halfpad tussen Hoop en Wanhoop
lê ʼn rooi-geel bootjie
en weerspieël herinneringe terug na my...

Donderwolke het onheilspellend saamgepak...
Tussen die riete (by die brug) nét dáár,
het ek haar gevind – maar helaas! ek was te laat.
©

McF
Die gedig wat ek nou plaas moet pas by die foto, waar die vrou/man in die modder is.

Vader! ek weet nou

Verbaal tref twee vriende se vuishoue
hulle giftonge saai gif en los ʼn litteken...
"Kyk die vark!
rol in modder nes die verlore seun"

Laggend skreeu die lewensredders
"Hy wou mos redder speel!
gooi in die tou, dat hy homself red,
hy is mos kind ʼn van God en moet vertrou!"

Vader! ek weet nou dat as ek in modder lê,
kan ek opstaan. Maar as my tong gif saai,
kan ek nooit die woorde herroep nie.
Vader vergewe asseblief! my en hulle.
©

McF:
Mmy volgende gedig is gebaseer op jou foto van die wa met perde en die karre Ya'acov.

Doodsroep.

Die wind begin asemrig waai
sag soos geeste se fluistering.
Spookwolke dryf nader na mekaar
sak laag en omvou huise en karre.

Die uile stuur hul doodsroep die donker in
harder en dringender groei dit aan...
Die roep word ʼn intense weeklaag. Met wa
en perde, sluit twee geeste, by die uile aan.

As ʼn uil op só winderige aand
op die nok van ʼn huis gaan sit,
sterf iemand in daardie huis...én
twéé geeste...kom die dooie haal.
©

Ya'acov:
ivoor het my bekoor
wense van die gehoor
artse het my na jou gestuur
psalm en sang nie meer gehuur

spier het my hier gekry
hegte bande het gely
blyer kon jy nie kry
ydele verhoudings is gesny

bedel gerus meer waardevolle tyd
stryk weg alle gevoelens van nyd
sysag jou woorde van liefde
edele verhouding met geliefde die prys
©

NUWE EKPHRASIS SKILDERY:
http://www.woesblog.com/forum/index.php?topic=1598.msg26819#msg26819

Skilder: Thomas Sully
Titel: The Torn Hat
Jaar: 1820
Plek: Kalifornië

*Inligting en foto verskaf deur Ya'acov

Ya'acov:
Mý hoed

Ek dra mý hoed
ek dra dit, want ek het moed
by my oupa gekry
maar sy tyd is nou verby.

Dis die enigste van hom wat ek het,
my lewe saam hom was baie pret!
Hy het my leer van die lewe,
hoe om bang te wees, sonder dat jou broek bewe.

Hy het niks van pa gehou,
altyd gesê “kyk na jou vrou
ek wou haar ‘n dokter maak,
maar jy’t besluit sy moet mamma raak”.

Ek hou van pappa en ma
al het oupa soms gekla
hy het my so baie geleer,
maar as ek nou aan hom dink, is dit seer.

My hoed het hy gedra
by visvang, bofbal en lekker dinge,
oral waar ek vir hom moes vertel van sinne,
my hoed is al wat ék vra.
©

Piet Magriet:
Spykerkaskenades.
Jy wat manel dra,
ek lag vir jou in my hand
as jy so sukkel om bo te bly,
met vlerke wat wild swaai en
‘n stertjie wat wikkel
van kant tot kant.

Met daai stomp bek
gryp jy vashou plek
en ek is verbaas dat jy
so lank bo kan bly.

Vroulief sit gedwee en staar
na die velde tot wie weet waar.
Sy is gládnie verwonner nie
as jy sommer net so áfdonner nie.

As jy opspring en voor haar kom staan,
skud jy daai vlerke wel gedaan.
Dan gooi ek my kop agteroor en lág.
Nou kan ons net wag vir die nageslag.
©

Foto: http://www.woesblog.com/forum/index.php?topic=4474.0