Geestelike Verse en lirieke van "Totius"

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel om die res te lees.
Verwysing: 
Met dank aan "Totius" vir die leen van hierdie geestelike praglyne van jou.

"Totius" In U hand gee ek my lewe oor!
Wees my tog genadig, Heer, want ek is in die nood.
Ek voel ek is vergete, soos iemand lank reeds dood.
U het die dreigement herken, en U het my bevry,
Hoe groot is U genade, Heer, U’s altyd daar vir my!

Moet my nie veroordeel nie, al is my sonde groot.
Moet my nooit vergeet nie, Heer, selfs nie in die dood.
Vou my toe in liefde as ek ned’rig tot U nader,
want U bly my hoop, vir altyd troue Vader.

Elke dag moet ek keer of ek dryf al verder weg;
word ek geknel deur onheil, bly ek ’n sonde-kneg.
Ek wil jubel oor U liefde, wat U ryklik om my vou,
U hand na my toe uitgestrek, waaraan ek vas kan hou.

U sal my nie teleurstel nie, al is my sonde groot.
U sal my nooit alleen laat nie, selfs nie in die dood.
U sal my uit die vangnet red, wat sonde om my gooi.
By U wil ek skuil, o Heer, U het my uitgenooi.

My tye is in U hand, Heer, op U sal ek vertrou.
Verskyn tog tot my redding, op U krag wil ek bou.
Alleen is ek tot niks in staat, ontbreek ek al die krag,
Help my om deurentyd op U alleen te wag.

Wees my tog genadig, Heer, want ek is nou U kind.
Ek voel nie meer vergete, want U het my gevind.
U het die nood in my herken, en U het my bevry,
Hoe groot is U genade, Heer, U’s altyd daar vir my!

Ek jubel oor U liefde, Heer, wat ek elke dag ervaar
Ek hoef nie meer te vrees nie; ek kan maar nou bedaar -
Ek was bang vir die sond’ en dood, toe’t U aan my hart geraak
In U hand gee ek my lewe oor, want U’t my vry gemaak!
©

*Ek het hierdie eintlik as lied geskryf, maar wil dit graag in hierdie formaat met julle deel...

Lirieke: Kan U my vergewe?

Dit was ek, ja Meneer, ek het U die kruis laat dra
Die man van Sirene wou nog nader staan en help
Die skare het geskree en gil – hulle was nog meer ontsteld
U’t gedoen wat hulle wou, sonder om een vraag te vra.

Dit was ek,ja Meneer, ek’t die doringkroon geknoop
Al die vroue was daar, hulle het oor U getreur
Die soldate was ook hier en daar – hulle het U kleed geskeur
Sonder om ‘n woord te sê, het ek agter U geloop.

Kan U my vergewe – ek’t die spyker ingeslaan!
Kan U my vergewe – ek het alles laat begaan!
Ek’t geskree en gelag toe U hier verby moes gaan,
Dit was ek, ja Meneer, ek’t die spyker ingeslaan!

Dit was ek, ja Meneer, ek’t die suur asyn gegee
Die soldaat het gevra: “Waarom red jy nie jouself?”
Die son het in nag ontvou, wie sal ons nou kan help?
U het u hoof gebuig, en toe u gees gegee…

Die hangsel het in twee geskeur, die aarde het gebeef
Die mensdom moet nou erken dat die Here waarlik leef!

Dit was ek, ja Meneer, ek het die spyker ingeslaan!
Maar nou moet ek dit erken: U alleen ís die Heer!
Waarheen kan ek van hieraf gaan, kan ek my nog bekeer?
Is dit moontlik, Meneer, dat ek saam met U mag gaan?

Kan U my vergewe – ek’t die spyker ingeslaan!
Kan U my vergewe – ek het alles laat begaan!
Ek’t geskree en gelag, ek’t gelag oor U stil traan,
Dit was ek, ja o Heer, ek wat nou hier voor U staan!

U het my vergewe, ek’t die spyker ingeslaan
U het my vergewe, U het my nie laat vergaan…
Al my skree en gelag, die het ‘n lied geword
Want oor my, ja o Heer, het U u liefde uitgestort!

Ek’t geskree en gelag, ek’t gelag oor U stil traan,
Dit was ek, ja o Heer, ek wat nou hier voor U staan!
©

*Nog woorde van 'n lied wat ek onlangs voltooi het. Dis vanuit die oogpunt van 'n soldaat by Christus se kruisiging geskryf - die soldaat wat elkeen van ons simboliseer...