Gekroonde lyne (4): Verraderlike aangesig: Trapsoetjie

Woord in Engels: 
Druk asb. op die 'read more skakel' om alles te lees.
Verwysing: 
Hierdie gedig is gekroon deur 007 en word met trots uitgestal in ons boekie van woorde.

Trapsoetjie: Verraderlike aangesig.

Die dag bring verlange terug na die hede
My knieë is al rou van al die gebede

Gebroke skouers ruk tussen glimlaggies
Iemand vat aan my skouer saggies
"Dis alles reg haal net asem"
Blik deur wasem

Tolvlug
sug

Geheime wat wil deur breek
Gesigte wat smeek

Verlossing
Verligting

Vertrou wat vassteek
Draak wat sy kop om hoog hou
Waar mense al hul vertroue bou
Tot die na-nagse geluide alles verbleek

Laat sak my hoof
Waar die mure van straf alles verdoof
Snye wat op my rug deur kloof
Ek voel so beroof

Met die oggend gloed
bring die valse gesig weer moed.
©

TRAPSOETJIE SE GEDIG ONDER BESPREKING DEUR WOES SKRYWERS:

McF:
EK wil graag hê dat ons die gedig van Trappies bespreek. As mens na die titel kyk en dan die inhoud lees, weet mens dadelik dat hier weer 'n gedig is met soveel moontlike betekenise. Ek wil ook graag haar digstyl bespreek. PM en Juenka en Diamantjie selfs Willa. Julle ouens is die mense wat lekker kan raaksien wat die skrywers doen en probeer sê. Wat dink julle van die gedig? en die digstyl?

Willa:
Vir my, as ek haar mooi gedig lees, sien ek iemand wat gister se seer weer gaan haal het omdat dit nog nie afgehandel is nie - dit bring verlange en nog seer
en in gebed dra sy hierdie seer op, want sy weet dit hoort eintlik aan die verlede en nie die hede nie
en dat sy God se krag noodig het om dit daar te los

sy voel saggies hoe die Heilige Gees haar aanraak (of was dit nou 'n mens naby haar) en sy skep moed
sy hoor dat alles okay gaan wees - maar glo sy dit?

gister se seer is damn diep
en bly nog spook
daarom bring dit valse hoop -

sy het die seer van gister nog nie klaar verwerk of vergewe nie ....

maar wat weet ek nou eintlik

Trappies kom help ons reg -
dis 'n PRAGTIGE gedig met 'n powerful relay van jou binniste!

jy's braaf
jy's talentvol!

Piet Magriet:
Ek kyk altyd eerste na ‘n gedig se titel want daaruit kan ek probeer vasstel waaroor die skrywer skryf.
Die titel sê vir my dat die karakter voor die spieël staan en vir homself kyk. (Aangesig – wanneer ‘n persoon iemand van aangesig tot aangesig spreek, in hierdie geval die karakter in die gedig)

Verraderlik – die karakter het homself verraai.

Hoe? Hy/sy dra al hierdie hartseer alleen en deel dit met niemand anders nie. M.a.w., dra ‘n masker. Skuil bedags agter hierdie masker. Daar is dan die ewige tweestryd met homself daaroor.

Verraderlike aangesig.

Die dag bring verlange terug na die hede
My kniee is al rou van al die gebede

Gebroke skouers ruk tussen glimlaggies (hier lees ek dat die karakter die harseer agter glimlaggies wegsteek)
Iemand vat aan my skouer saggies
"Dis alles reg haal net asem"
Blik deur wasem

Tolvlug
sug

Geheime wat wil deur breek (Dit lyk tog of sy die geheime – die stryd – met iemand wil deel.)
Gesigte wat smeek (Dit lyk ook vir my dat die omstanders sien dat daar fout is en graag wil help.)

Verlossing (Sou die persoon dan sy stryd met iemand deel, dan sou dit verlossing en verligting bring.)
Verligting

Vertrou wat vassteek (Die persoon het nie genoeg vertroue in iemand nie)
Draak wat sy kop om hoog hou (Hier het ek klei getrap – Ek het die draak as selftrots of vrees of angs gesien en toe aan ‘n son wat hoogsit gedink, maar ek is nog nie seker nie.)
Waar mense al hul vertroue bou ( Hier kan ek nie verstaan nie, tensy dit sinspeel dat dit goed gaan deur die loop van die dag)
Tot die na-nagse geluide alles verbleek (maar na middernag dan is dit maar weer so)

Laat sak my hoof (Hier is dit vir my of die karakter skaam kry oor hy agter ‘n masker skuil –
Waar die mure van straf alles verdoof (hy voel hy word gestraf –
Snye wat op my rug deur kloof (dit is sweephoue van pyn –
Ek voel so beroof (omdat die persoon voel dat die mense om hom nie genoeg omgee om uit te vind wat die probleem is nie, daarom voel hy/sy beroof.)

(Ek sou graag hierdie twee reëls hier wou insit:

Tolvlug (Alles draai in sirkels, dit is net die siklus)
sug (die karakter sug maar ek dink dit is 'n sug van verligting omdat hy/sy more weer 'n poging sal aanwend om sy masker af te ruk –

Met die oggend gloed (as die dag breek -
bring die false gesig weer moed. (kyk die karakter homself weer in die spieël en hoop dat vandag die dag is wat hy/sy die kettings kan breek.

McF:
Trappies het afgewyk van haar normale digstyl en iets heeltemal anders aangepak. Ek dink sy het daarin geslaag om met die kortbeskrywing en langbeskrywings die gedig nuut te laat vertoon.

Sy begin met: haar eerste strofe met twee lang verse. In die tweede strofe begin die woorde minder raak en in die derde strofe gebruik se net twee woorde as 'n versreels.

Die dag bring verlange terug na die hede (lang verse)
My kniee is al rou van al die gebede

Gebroke skouers ruk tussen glimlaggies (verse raak korter)
Iemand vat aan my skouer saggies
"Dis alles reg haal net asem"
Blik deur wasem

Tolvlug
sug

Dan volg die vierde strofe, langer as die derde strofe maar nog steeds minders as haar eerste strofe.

Geheime wat wil deur breek
Gesigte wat smeek

5de strofe: Weer slegs, twee woorde Naamlik:

Verlossing
Verligting

Dan in die 6de, 7de en 8ste strofe's, wissel die versreels van kort na lang en weer na kort en indeig met 'n kort en lang versreel.

Vertrou wat vassteek
Draak wat sy kop om hoog hou
Waar mense al hul vertroue bou
Tot die na-nagse geluide alles verbleek

Laat sak my hoof
Waar die mure van straf alles verdoof
Snye wat op my rug deur kloof
Ek voel so beroof

Met die oggend gloed
bring die false gesig weer moed.

Dit is vir my baie opvallend dat sy hier rond gespeel het met 'n digstyl en sy het volgens my goed geslaag daarin om 'n digstyl te skryf waar die gedig van stadig na baie vinnig lees en dan in die laaste drie strofe's lees dit net lekker vinnig. Die rede hoekom dit lekker vinnig lees is dat sy klomp kort woorde gebruik saam met die langer woorde. Hierdie manier van skryf het ook die aandag afgevat van die eind rym wat sy in haar gedig gebruik het.

Ek dink dat ek net Trappies se digstyl hier sal bespreek.

Trappies kan jy ons dalk verduidelik wat die betekenis agter jou gedig is?
Dan jou digstyl, het jy doelbewus jou gedig (manipuleer) met die skryfstyl of was dit onbewustelik gedoen?

Juenka:
Die uitleg wat ek gaan doen is wat ek uit die gedig geneem het. 'n Gedig wat verskillende opinies en intrepitasies veroorsaak is in my opinie 'n suksesvolle gedig.

Verraderlike aangesig. (Nuwe dags gesig wat gister se pyn versteek)

Die dag bring verlange terug na die hede (Nuwe dag ou gedagtes maak hede lewe in die verlede)
My kniee is al rou van al die gebede (Moedeloos, raadop, frustrasie?)

Gebroke skouers ruk tussen glimlaggies (Valse voorgee met gisterpyn wat soos die wereld op skouers is)
Iemand vat aan my skouer saggies (Teer, omgee van almal om jou, empatie)
"Dis alles reg haal net asem" (Moed, asem beteken jy lewe nog al is dit net fisies en nie geestelik nie.)
Blik deur wasem (hier het jy my)

Tolvlug
sug

Geheime wat wil deur breek (ware gevoels wil uitkom)
Gesigte wat smeek (Almal wat deur die maskers sien wil help)

Verlossing (Moontlike nagevolg van ontmaskering)
Verligting

Vertrou wat vassteek (Nie vertrou in ander nie)
Draak wat sy kop om hoog hou (Ego hou ander weg van jou probleme)
Waar mense al hul vertroue bou (valse vertroue in die ego, ware vertroue in die siel)
Tot die na-nagse geluide alles verbleek (Na nagse dui vir my op alleen wees, wanneer twyfel inkom)

Laat sak my hoof (Moedeloos, moeg vir masker maar voel veiliger agter dit)
Waar die mure van straf alles verdoof (Bang vir nagevolg as masker verwyder word)
Snye wat op my rug deur kloof (Rug dui vir my gister aan, dws gister se foute maak seer en veroorsaak masker.)
Ek voel so beroof (Beroof van geluk, beroof deur gister se pyn)

Met die oggend gloed (Elke nuwe dag gee hoop vir ontmaskering)
bring die false gesig weer moed. (Miskien is daar moed vandag. Moed vir ontmaskering)

Weereens Trappies, dit is 'n stunning gedig. Ek kry die gevoel dat dit gaan oor iets wat in die verlede gebeur het wat 'n geheim is. Net die persoon weet wat werklik gebeur en weet die geheim kan almal om haar/hom seer maak. So hy/sy sit 'n masker op. Die ego speel ook vir my hier 'n rol. Wil nie aan ander herken daar is fout nie, al kan hulle die masker sien. Daar is wel hoop met elke nuwe dag maar dit is van korte duur aangesien hy/sy sukkel om in die hede te lewe en is in 'n wereld vat gister se pyn en foute.

UITEENSETTING VAN HAAR PRONKSTUK DEUR TRAPSOETJIE:

Baie baie dankie julle. Ek voel skoon skaam.

Goed ek dink julle het almal die punt gekry wat ek probeer skryf het en dit was die wegsteek van onsaglike pyn, wat net teveel is om te dra, maar nie oorvertel kan word nie, want dan moet sy erken dat sy stukkend is.

Maccie, nee ek het nie die rym so beplan nie dit het net gebeur soos ek geskryf het.

Juenka, ek moet sê dat nie eers ek sou die titel so mooi kon verduidelik het nie dis perfek. Nuwe dags gesig wat gister se pyn versteek

Verradelike aangesig

Die dag bring verlange terug na die hede (kan gister se pyn nie los nie)
My kniee is al rou van al die gebede (gebede binne mens wat na aanvaardig smag wat wil laat los maar is te bang om te los)
Gebroke skouers ruk tussen glimlaggies (gee voor alles is reg)
Iemand vat aan my skouer saggies (nie letterlik nie maar die innerlike ekke)
“Dis alles reg haal net asem”
Blik deur wasem (kyk deur vuil lense)

Tolvlug (binne is daar ‘n kolk van emosies permanent besig)
Sug ( innerlike sug, moeg maar kan nie erken dat daar fout is nie )

Geheime wat wil deur breek (dinge waaroor nie gepraat kan word nie, want dan word dit ‘n werklikheid)Gesigte wat smeek (drogbeelde van dit wat jaag)

Verlossing (daar is verlossing en verligting as dit uitkom)
Verligting

Vertrou wat vassteek (weet nie hoe mense sal reageer nie te bang om te vertrou)
Draak wat sy kop om hoog hou (ek wil nie weer die woord dag gebruik nie toe gebruik ek draak vir dag) Dis inelkgeval nie ‘n normale dag soos vir ander mense nie dis weer net nog ‘n dag van pyn wat weggesteek moet word)
Waar mense al hul vertroue bou (dis nou op dagbreek van toepassing )
Tot die na-nagse geluide alles verbleek (Alleen, net sy en haar monster tog kom rus, geen voorgee)
Laat sak my hoof (skaam oor die geheim)
Waar die mure van straf alles verdoof (die muur word gebou so dra pyn te veel word)
Snye wat op my rug deur kloof (Rug word in die plek van verlede gebruik snye dui die vreeslik pyn aan)
Ek voel so beroof ( sal nooit voluit kan leef of mense genoeg vertrou om sorgloos saam ander te leef nie dis weggevat)
Met die oggend gloed (dagbreek weer)
bring die false gesig weer moed. (waar die gesig vir die wereld gewys word, maar nie wys wat regtig gevoel word nie)

Baie dankie vir julle bydra so leer ek alweer nuwe goed. Dis vir my so lekker om van ander te leer en dit dan te probeer verpersoonlik.