Ya'acov:
Kan jy die kleur van 'n papawer vir 'n blinde verduidelik?
Kan jy die klank van 'n uil wat roep, en die maat wat antwoord, vir 'n dowe persoon beskryf?
Kan ek ooit jou die vreugde in my hart beskryf? My twee vreugdes? Ook my hartseer oor die een wat weg is?
Kan jy verstaan hoe dit vir my voel as my seun vir my flou grappies lag?
Kan jy voel wat ek voel as my dogter my "uitvang" omdat ek die TV skelms ontkoppel het, en sy dit self regkry?
Weet jy hoe voel die vreugde as ek Skrif wil aanhaal, maar vergeet waar dit staan, en wat die woorde is, en my seun kan my reghelp?
Oor geld kan jy hulle twee ook niks vertel. Dis ONS wat by hulle leen. Sy het altyd, drie dae na sakgelddag niks oorgehad nie. Hy weer het na 'n jaar steeds 'n jaar se sakgeld.
Toe het hy met haar "in gesprek" getree, en hulle bêre nou vir wanneer dit nodig is.
So spandeer hy toe een jaar se sakgeld op 'n spesiale Skrif wat hy begeer, en weer 10 maande s'n om by te dra tot die kitaar wat hy nodig het.
Sy leen weer, rente vry, en vergeet hoeveel, maar weet net ons skuld baie, as die huishulp betaal moet word en die kitsbank is alles behalwe kits.
Ons bepaal nie die onkoste of koste van 'n kind nie, maar weet net die Vader voorsien, elke dag, elke maand, elke jaar. Nooit te veel, maar nooit te min.
Natuurlik kom die eer die Vader toe, wat ook net die kinders, met hul nukke en vreugdes, vir ons leen. Mag Hy gee dat ek voor hule gaan en dat ek ook my kleinkinders mag beleef.
