Kreatiewe Lyne: Ertjie Verbeel van Erna Jo

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel.
Verwysing: 
Met dank aan Erna Jo vir die uitstal van hierdie praglyne!

Laat ek begin by die begin en verduidelik wie en wat Ertjie Verbeel is. Ek het nog nooit nie, miskien omdat ek nog altyd bang was dat ek in een van daai wit baadjies wat jou arms aan jou lyf vas koeksister sou beland. ‘n Muilband vir arms. Wel, que sera sera, die waarheid moet tog uit.

Ertjie Verbeel leef in my kop. Sielkundiges sou sê dat sy ‘n deel is van my persoonlikheid wat afgesplits het en haar eie karakter aangeneem het. Natuurlik het sy. Waar anders sou sy vandaan kom? En haar naam is vanselfsprekend. Soos die ertjie in die sprokie is sy die doring in my vlees, die knop in my matras wat maak dat ek nagte wakker lê. En sy verbeel haar dinge. Sy is heeltemal psigoties. En eiehandig verantwoordelik vir elke stukkie gemors waarin ek in die verlede beland het. Want Ertjie Verbeel is vreesloos. Pure foksterrier. Nie dapper nie, neeeee, eerder domastrant. Grootte, status, bankbalans, roem, kleur en spiere, niks skrik haar af nie. Ons lyk mos almal dieselfde aan die binnekant, verdedig sy haarself altyd, hoekom moet een mens dan anders behandel word as ‘n ander? (Net vir die rekord: daardie beginsel is by my gesteel – en verdraai om haar te pas)

Die monster is meeste van die tyd dormant, tot iemand voor haar oë benadeel word. Of verontreg word. Dan verrys sy. Nie soos ‘n phoeniks nie. Soos die doodsengel. Want Ertjie Verbeel veg vir die verdruktes, verontregtes en verdoemdes van die samelewing. En moenie dat sy jou sien nie. Haar oë spuug vuur. Haar kyk sal ‘n veldbrand gedwee laat omdraai en in sy spore selfmoord pleeg. Dan het sy nog net gekyk. Nie ‘n woord gesê nie.

Haar blik laat groot mans hakkel en bewe. En om verskoning vra. Een kyk, en stout klein kindertjies vra vir spinasie en pampoen. Haar woede is iets vreeslik. Die engelse het ‘n mooi woord daarvoor: wrath. (Toorn werk nie lekker nie want dit klink soos die Nederlandse voorgeskrewe boek wat ons op skool behandel het en laat my aan tulpe dink) Wrath werk, dit rol soos skerp klippe oor jou tong. Dis hoe sy is. Vol wrath. As Ertjie Verbeel in al haar glorie voor jou staan, kan jy nie help om aan Oordeelsdag te dink nie. En dan begin jy stilletjies al jou naastes groet, want jy weet, jy weet hierdie buksie hier voor jou, sy trek bloed.

Ek nou weer, is die sagmoedigheid self. Sal nooit ‘n vlieg skade aandoen nie, en as dit dalk per ongeluk gebeur, mooi om verskoning vra. Ek sal nooit, nooit ooit optree soos Ertjie Verbeel nie. Ek is nie ‘n oorlogskryger nie. Ek glo daaraan om die ander wang te draai, en sien altyd die ander ou se kant van die saak ook. Ek is iemand wat verstáán. En die wêreld se empatie met mense het.

Nie Ertjie Verbeel nie. Sy heers in my donker kant. Dis haar grondgebied. Dis hare, en hare alleen. Sy huur klein stukkies donker aan ander uit, en regeer vir hulle met ‘n ysterhand. Onder die pagstelsel. Daar is niks sags aan haar nie.
Ek dink ek sou ‘n baie goeie diplomat gewees het. Ek kan onderhandel, en met groot geduld mooi praat. Daarom dat sy meeste van die tyd onder beheer is, en ek aan die stuur van sake. Meestal.

Soos nou die dag. Ons ry, ek en my ma, moeg gekoop, rustig op pad terug huis toe. Lus vir tee, agteroorsit en nabetraging hou oor die dag se inkopies. Dis al ‘n ritueel. Man, ek het vrede met die wêreld. Te lekker. Tot die ou man in sy spiksplinternuwe Mercedes reg voor my indraai uit ‘n systraat. Ek het die stopteken aan sy kant gesien. Hy nie. Hy’t nie gestop nie. Ook nie sy flikkerlig aangesit nie. Net voor my ingery. Lig ook nie eers ‘n hand om te wys hy is jammer nie. En hy ry of hy parkering soek. Dit voel of ek klem in die kaak onder lede het. Ek staan amper regop op die rempedaal en my arme kar weeklaag lank en luid. Voëls vlieg verskrik op en die straat se honde begin almal blaf en huil. (Hulle sê mos diere kan onheil aanvoel) Briekmerke lê soos treinspore agter ons. Ek dink ek het teer uitgehaal.

Ek veg verbete om beheer, want Ertjie Verbeel wil uit. Haal diep asem. Blaas lank en stadig uit. Weer. En weer. Tien keer. Dit help nie. Paniek klop in my slape. Ertjie Verbeel was veilig agter tralies toegesluit, maar sy stap nooit uit ‘n vertrek uit nie. Sy skop die deur af. Ek weet sy is op pad. Ek is lus en spring sommer so in die ry uit die kar uit, maar ek kan nie my ma aan haar genade oorlaat nie. Ter wille van familie sal ek veg.

My Golfie begin nou sluk-sluk, want sy kan nie so stadig ry nie. Dis soos om weg te trek in vierde rat. Ek kan nie so poerpoer nie..... Die oomblik toe ek dít dink, toe weet ek, ek het verloor. Ertjie Verbeel vat oor.

Sy skakel flink terug tweede rat toe en trap die petrolpedaal diep weg. My kar spring soos ‘n resiesperd uit sy wegspringhokkie uit. Soos in ‘n droom ry ons uit my bekende veilige omgewing Ertjie Verbeel se nagmerriewêreld binne. Ons skuif tot langs die Mercedes. “Wat maaaak jy my kind?” kerm my ma hier langs my. “Ek wil net vir hierdie DINOSAUR hier verduidelik die ingang na die STEENTYDPERK is nie in hierdie straat nie”, antwoord Ertjie Verbeel, “hy kan maar vinniger ry”. Ons ry kop aan kop, en so waar as vet, sal die ou perd nie ook versnel nie!

Ertjie Verbeel ontplof.