Lyne/verse wat treur: Vanuit die geknakte woordare van die Woesterse lanings.

Verwysing: 
Met dank aan al die skrywers wat bydrae tot hierdie kreatiewe bydrae. Druk asb op die 'read more' skakel.

ammiemoon: uit die blou van onse hemel...

onteer deur jou reënboognasie
se steenkool hande
jou goud besnede vertoonvenster
depresieer as hammers
op jou regtersbanke gallop

sleeploop in drek van jou myne
om my gesin te voer,
bad tussen dooie visse
bottel jou verrotte strome
vir my nageslag om te drink

plant geen boom ooit
stroop woude vir behoud,
'lion matches' verlig my konka
en ek steel kragdrade waaraan jy my
'sanity' kan hang

roofkyk deur gestoomde ruite
na jou 'gravy' en kwyl,
brandsiek bloei ek in 'waiting halls'
van klinieke terwyl ek haasbek
smile vir die SABC kamera

my telge word slim gedom
op verkoolde skoolbanke,
verkneg aan 'the struggle en apartheid'
wyl hulle swartvark speel op maat
van Nkosi sikelel' iAfrika

blaas 'n vuvuzela en toi-toi
vir bafana bafana
wyl enkels breek in 'potholes'
van jou onteerde paaie

Malema is my 'bra'
al vergruis hy my ma
cause my 'social grand' word toegestaan
as my vrou nog 'Hiv-baby's baar

ek sal lewe
ek sal sterwe
ek vir jou Suid Afrika.

© 2010 Almarie Truter

Charl Bezuidenhout:
ʼn Traan daal en alle planne faal
om hart gedagtes te behou ...

die lem roep,
roep ...
die tou – uitgerafel
die pillehouers,
dolleeg

Die polse het geen plek
(almal dink dis gek)
die lewe aan ʼn draad
al moeg vir nuttelose raad

die bloed kalmeer,
sny vir sny
sluk vir sluk
©

Loko-motief:
Ek staar na die nag deur ʼn ruit;
Is dit reën of trane ?
My oë is droog ...
Maar dis my hart wat ween ...
Is reën ook maar die hemel se smart,
tasbaar? Oor droogtes ...?

ʼn Straatlamp se strale sukkel deur die slierte;
sommiges bereik my skuilte ...
Omring deur dansende blaarskadu’s
kyk ek na die waterdiamantjies
wat weerloos van die dak af tuimel ...

Dis pragtig, maar hartseer;
Die diamantjies verloor hul prag
in ʼn modderpoel;
Nog nuttig,
maar die glans het verdof ...

Die liefde se ditto ? – kosbare oomblikke,
herinneringe wat skitter,
dan verswelg in die sleurstroom van die lewe ...
en eindig in ʼn warrelpoel !
©

Ek het diep, diep in jou oë ingekyk
Jy't skermend, skaam, skuldig gelyk

Jy het my hande in joune vasgevat
Jou oë was albei skielik nat-nat-nat

Jou stem en lip het begin te bewe
Ek't gevoel hoe dreineer my lewe

Jy het nog ietsie vir my probeer sê
Maar'k wou net styf-styf teen jou lê

Die woorde het jou geheue verlaat
En jy kon meteens nie meer praat

Toe't jy probeer om vir my te fluister
ek't met my hele siel probeer luister

Jou woorde het nie vir my sin gemaak
Maar my binneste't middeldeur gekraak

Die reënboog't geheel sy kleur verloor
Die oomblik toe jy my hart deurboor

Jy sê jy's steeds baie, baie lief vir my
Maar jy't ʼn ander nog liewer gekry ...!

Ons wou nog saam op sneeu gaan ski
Maar't sal nou nooit meer gebeur nie ...!
©

Marcie: (vir almal wat swaar trek dié tyd vannie jaar)
Vat seblief my hand
en stuurgelei my
deur hierdie
dag

want my oë is stom -
my ore blind -
dis alom my
nag...

kersfees is naby.
pinkster ook.
'n nuwe lewe
wag
©

Mefri:
My siel lê verlam
uitgestrek
op die koue vloer

my smart-deurdrenkte vingers
soekend
tussen die vlymskerp rotsskeure
van my hart
na druppelsbloed van jou

maar, al wat ek kan vind
is skaduwees
van gister se onthou
©

Elmarie Westerink:
Die geluid van 'n hart wat skeur
weergalm in jou siel...
alweer totsiens
adieu
dit is nie 'n "sweet sorrow" nie
Shakespeare was verkeerd
dis wegloop van jou bloed
jou asem
jou polsslag
jy verskiet tussen die sterre
in die swart nag
en word uitgespoeg
in 'n dorre droeë plek
sonder die dans van die reën
of die reuk van nat rooi grond
of die heupswaai op maat van ritmiese dromslae.

Die metaalhek se wrede mond
sluk jou in en dis te laat...
te laat om weer
jou liefde te sien!
Die doef doef doef in jou kop
is jou hart se vuiste
wat tevergeefs wil keer
dat dit ooit ooit weer
met jou lewe sal gebeur...

Net nog 'n vlug
en 'n totsiens
adieu adieu adieu
hoor jy dalk ook
hoeveel ek oor jou treur?
©

SueEe:
Met haar hart seil
sy sirkels om die maan
met gedagtes wat steel
en woorde wat skrik,
kan sy nou in gebed ontvlug
en vra; Here, ag help tog weer?
©

Sussa:
Tussen borriegeel blaaie van ou-onthou
het wegsteekwoorde weer oopgevou…
Ek't diep in die loep van jou lag loop lê,
jou blink, blink blymaakgoed hoor sê!
My gisters was grou en grys gekleur:
Waarom sou ek my nou daaraan steur?
Ons lewe 'n stormsee van branders wat breek,
malgasse wat skree en dorings wat steek
en eendag het ons lewensskip gesink:

vier kinders het byna verdrink…..
©

Aspoesterjie:
Hartseer
Kwaad
Selfverwyt
Maalkolk emosies
Deel van my grootword proses.
Waar is Pa?

My steunpilaar
Opgelos deur partytjiesap
Onbeantwoorde vrae
Liefde
Toenadering
Waar is Pa?

Mansfiguur vervaag
Verwerping fokus
Soos nuwe vrou
Al jou aandag eis
Waar is pa?

Liefdesbande skeur
Lewensbote dobber
Al verder uit mekaar
Verlange seer
Bloedbande nie sterk genoeg
Waar is Pa?

Alleen word ek vrou
Sonder jou steun
Wat nou
Onvoorwaardelik
Aan getroude familie hoort
Waar is pa?

As ek jou nou
Op ‘n afstand
Saam met hulle sien
Is daar net vae seer
Want pa is jy,
Vir my nie meer.
©

Goselyn:
Die diep, diep seer
van 'n hart, gebroke.
Bly, agter toe oë,
eenvoudig nie verborge.
©

DanieBinneKortDelene:
Ek kyk uit oor die see en wonder of ek hierdie eina gaan oorleef
en of ek wil
gaan ek ooit jou kan laat gaan
en myself kan vergeef
en of ek wil
met elke brander wat rol oor en oor
swel die eina in my oë en skeur oor my wang
en ek gil
wens ek ek kon die noodlot toor
en kon wegvee al die einas, die bang
en ek gil

maar onstuimig my gemoed soos die deining my blik rondpluk
sproei in my gesig
voel ek hoe my hart gryp aan my keel
ek swaar sluk
met die sproei in my gesig
hoe uittartend die hede, ons tans,
ons nou
sproei in my gesig
soos ‘n spuug van moes-gedink-het, jy's-mos-'n- intelligente-vrou
sproei in my gesig

grou die sout van die smart 'n wond diep seer
smag na jou
en vreet dit 'n gat in my hart waar jou sorg makeer
smag na jou

en of ek wil
en of ek gil
spoeg die waarheid 'n sproei in my gesig
en
ek smag na jou
©

Tebseil:
Soos ‘n twee snydende swaard
bring die tong baie skaad
nie tweemaal aan die woorde gedink
wat ge-uiter word met smaad

Jou denke kan dit nie eers stop
die woorde rol en rol
nes ‘n warm mes
deur gevriesde botter val

Vir jare lank kon niks, daardie woorde blok,
nie eers ‘n pot arseen, as teenvoeter die gif stop
Die skade is gedoen, al sou jul ook versoen

Is dit nie liewer beter, te maak heeltemal seker
sou jy iets uitlaat
doen dit eerder sonder kwaad
©Tebseil – November 2008

Bigfoot:
Sy verskyn asof uit die niet langs my,
oud, afgeleef en opgebruik deur die lewe.
Die swaarkry uitgebeitel op haar gesig.
Moeë blou oë kyk vas in myne, wyk geen fraks.
‘n Laphoedjie verberg die gryse hare, ‘n ouma dalk?
iemand se moeder, waar is die kinders dan,
dat sy moet bedel vir brood vir vanaand?

In my hart reën die seer en dankbaarheid tesame,
ek kan help, vir vanaand, wat van more, en oormôre?
Toe ek my hand uitsteek met ‘n glimlag, leef haar oë,
met bewend onderlip kom haar “dankie meneer” sag,
terwyl ‘n enkele traan oor ‘n stowwerige wang loop.
“Die Here seën u meneer.” kom haar woorde sag
toe sy omdraai en haastig stap na die kafee se deur.

Dankie Heer, u het my reeds geseën, my lewe lank, maar ook nou.
©

Flaf:
Pompei 79 nC

Diep in die aarde
borrel
kokende magma,

vind 'n krakie
in die kors,

spoeg lawa, swael en
verwoestende hitte

oor mens en dier
stad en plesier

Vesuvius 2008 nC

Uit krake
en skeure

peul swaelreuk
in wit-warm
wolkies

al klouend
teen yskoue
klipwand

na bo.
©

LYNE WAT TREUR:
bertha badprop:
* By die wortel van die ou wilgerboom huil my hart sy trane soos druppels na die na-nag se reën.

Goselynn:
* Ek is jammer, maar jy is nie goed genoeg vir my nie.

SueEe:
* Die seerste klank wat daar is ... is 'n Pa wat huil. Dit is 'n verwroegende snik wat jou eie wese in 'n ander dimensie van 'n lewe wil plaas ...

Annie:
* Wanneer die ure om my toesak soos donker gate langs die maan.

Jo'e-Lo:
*As jy met God praat, herinner Hom aan ‘n skaapkind, wat donkernag vir die môrester wag ...

die kruppel-kranketjie met die gatseerhart, sonder raat, wat bot-oog soek na vrede en net lippelag.

* Vra Hom om met Sy herdershaak, die weggooilam nader te haal
sê vir Hom, ek het verdwaal...
©

Meraai vannie baai:
Grys-grou in G-mineur

Breek twyfel deur die malende branders in my gemoed
tussen eb en vloed - gekomponeer - die Jeremia lied

In sandkrabbelpatrone eggo die refreine en
onthou druk in G-mineur druppels uit my ooghoeke

'n Tolboswind waai verkrummelde drome oor duine
van waarwel ...

Verblind skimbeeld 'n horison
in grys-grou palet ...

Skilder gister my môre
in twee kwashale

- dis verby -
©

Zadu:
aurora borealis

laatmiddag
kalkwit strand strek

langs skittersilwer kristalle
op lapis lazuli water

reënboë prisma in
spattende seesproei

teen saffraan son van somer
vlamrooi horison
magenta berge;

nuanses van
goue sjampanjedae..

my siel sirkel in
koperrooi golwe
branderig soos trane

gistermense tuimel
in karmosynrooi wolke

…rooi reddelose uur

die son verdrink
in asuur see
my hart breek
in indigo lig

…blou splinterglas-uur

op monochroom sand
©

Mostertsaadjie: God, ek en my kind

Ek het jou sien grootword en groei, onthou dit net.
Van die dag toe jy jou eerste lewenslig aanskou het.
‘n Pragtige bondeltjie pienk mensie, nog vol bloed,
so het ek jou aanskou op jou eerste oggendsgloed.

‘n Donkerkoppie vol hare, jou gevoel was so sag.
Het ons maar net geweet wat op jou lewenspad wag?
‘n Hulpelose, afhanklike nuwe mensie was jy,
ek weet ek kon niks beter van God af kry.

O’ ek onthou nog soos gister daardie eerste glimlag.
Almal moes tog kom en my oulike kind betrag.
Dan praat ek nie eers van daardie eerste tree,
dit was ‘n groot geskenk aan my as Moeder gegee.

Die dae kom en gaan toe vir jou so een vir een.
Elke nuwe ontdekking was ‘n Godgegewe seën.
Jy, my kosbare kind, deur God aan my gegee
maak saam met my, ‘n lewensreis mee.

Jare het gekom en jare het vinnig weer verbygegaan.
Vader Tyd het nie vir jou of vir my stilgestaan.
Jy het jou eie giere, gunstelinge en belange ontwikkel,
ek het toegekyk, nou en dan jou siening verwissel.

Vandag is jy so pragtig, so selfstandig, so groot!
Sal jy ooit weer na my draai in jou tye van nood?
Hoe het die lewe hierdie vreeslik poets op my gebak,
my kind het my verlaat, alles weg, sak en pak.

My hart skree dit uit na die blou lug daar ver bo.
My kind het sy rug op my gedraai, sommer so!
Wat, O’ Here, het ek gedoen om dit te verdien?
Sal ek, Moeder, ooit weer my lieflingkind sien?

Ek val, ek wil verdwyn, deurdrenk deur my eie smart.
Maar deur die swart kol, hoor ek Ons Vader se hart.
“Gee jou kind terug vir my, jy sal dan kan sien”,
“Ek is Die God wat omgee, Die Een wat ken, wat voorsien”!

‘n Rustigheid bonatuurlik daal neer in my omstuimige gees.
‘n Liefdevolle uitreiking van Hom laat bedaar my vrees.
My kind was nooit myne nie, net aan my geleen,
ek weet die tydjie wat ons s'n was, was vir my ‘n seën.

Al is my kind dalk naby, dalk ver, dalk al dood!
Genade sal hom vashou, hom volg, red uit sy nood!
Eendag vorentoe, miskien nog baie jare se wag,
sal ek en my kind herenig word deur Goddelike krag!

Wie ken die arm van God aan wie is Hy geopenbaar?
Solank ek my styf teen my Herder se boesem skaar.
Niks sal my of my kind kan skei van Sy liefde nie,
nederig, buig ek vir my en my kind, my knie.
©

Sussa:
Nag

ek kon die stilte hoor
net die sleutels op die swart bord
wat saggies keel skoonmaak
'n dofgeluid van 'n ver-kar
en verder niks
die vroegherfs om my arms
het vergeet om te onthou
dat dit dalk koelerig
hier voor tussen die verf
die nat skilderye
en die baie foto's van naby-mense
gaan wees
sal ek die ou trui van my Pa
uit die kas haal en my toekokon
so papie-beskut
aan hom vasklou
en met geslote oë
net bewus wees van sy nabyheid
en verder niks
©

Ipek:
Bitterals

As ek vanaand in jou tent moes woon
met net die matte oor die sand
en dikmelk drink uit jou kruike
sou ek vir niks meer vra nie
maar hier sit ek agter toe luike
wat die lig uithou
en my teenwoordigheid verberg.

Ek mis die nagtegaal en
die koekoek se roep,
die soet lug in die aand
en onder koper lanterns
in die skemer, bovendal
jou warm nek en die later smaak
van soetwyn op jou tong.

Hier drink ek asyn en bitterals
en sing al die voeltjies vals.
©

Ipek:
Die poue

Toe ons die slag
so naby aan aan mekaar was
en ek jou warnte teen my kon voel
het skielik in die verte die Poue
begin skrou
en die vrede
het in stukke
op die graniet gebreuk
terwyl jou brose oë na my staar
©

Ipek:
Epiloog

Nou hoor ek jou stem in elke skemer
en ek onthou jou oe en donker kuif
as ek saggies vir jou bid.

Ek klee my in lanfer en fyn wit linne
en huil oor die smaat
wat jy man alleen
moes dra
toe die vernedeing
soos gif in jou brand.
©

Annie:
Verby

In die dofverligte hoekie
oorspoel met 'n soet
geur en rook,

vind hy 'n bondeltjie
menswees

eens geken, en
aan 'n geliefde
ouerpaar

moet hy gaan vertel . . .
Hoe?
©

Rina Greeff: Hemel se witbroodjie

Hemel se witbroodjie?
Deur: Rina Greeff
Weergawe: 1
Druk hierdie gedig
Swaarkry se kind
sukkel met somme;
met syfers wat nul
en niks
vir hom sê.
Sy letters
draai hy linksom,
leeg-, dolleeg-
en holgeklank;
so skeef en krom sonder sin,
sonder punt;
sommer net
‘n geskriffel in die wind.

“Dom, “
dink hy gedurig,
“Dis maar
ek:
altyd laaste, altyd
die swakste in die klas.”

En sy skouertjies hang
elke keer
al laer
en laer;
hang veels te veel
met eina se soe:

dêm, dis mos seer!

En die Vader weet alleen

waarom…?
©