My Verbode Liefde…

Ek onthou nog die eerste aanraking, die eerste ontmoeting, die eerste smaak van my ‘verbode liefde’, die eerste oogopslag, elke oomblik. Ek het van die begin af geweet dat hierdie liefde, of altans, hierdie sonde, vir my geskep is. Elke ontmoeting was passievol en natuurlik, die laaste tydperk, meermale baie versigtig en in die geheim. Die rede wat ek en my ‘verbode liefde’ noodgedwonge in die geheim moet ontmoet, is eintlik heel verstaanbaar. Jy sien, dis nie dat ek skaam is vir my sonde nie, o nee, maar die probleem is, ek trou oor twee weke…
Voel ek dan nie skuldig teenoor my verloofde nie? Nee. Sonder om te blik of te bloos is my antwoord na al die tyd nogsteeds dieselfde. Nee, ek het geen skuldgevoelens nie. Partykeer sal die gedagte van skuldig voel opkom, maar dan vlug ek net weer na my ‘verbode liefde’, en gee myself oor aan die smaak van, hmmm, passie, liefde, opwinding en tevredenheid.
Ek kan net nie hierdie sonde van my opgee nie, ek het al hoeveel kere tevergeefs probeer, maar dit hou nooit lank nie. Ek bly weg van my verbode liefde af, vermy my sonde ten alle kostes. Maar elke keer wat ek instap in ‘n kafee, loop ek my liefde raak, in ‘n garage, in ‘n inkopie sentrum, oral.
Ek weet ek moet ophou, maar dis net so moeilik. Ons stap al ‘n lang pad saam. Elke keer wat ek en my ouens uitgemaak het, as ek nie die pos gekry het wat ek wou hê nie, of sommer maar net as ek 'n af dag gehad het, was my ‘verbode liefde’ daar vir my. Een smaak van my sonde en my hart begin bietjie beter te voel. Om selfs net my sonde te sien sit daar op my kombuiskas, of langs my in die kar, laat my altyd al klaar beter voel.
Ek wonder partykeer waar dit alles begin het, waarom ek nie net my ‘verbode liefde’ opgee nie. Ek weet gelukkig ek is nie die enigste een wat met hierde sonde sukkel nie, daar is ontelbaar ander vrouens (en mans...) reg oor die wêreld wat met hierdie probleem sukkel. Ek het vandag weer met my beste vriendin gepraat oor hierdie sonde van my. Sy weet ook nie wat ek moet doen nie. Ons het daaroor gedink, en tot ‘n besluit gekom. Ek weet nie hoe ek dit reg gaan kry nie, maar ek moet maar eenvoudig net vir eers totsiens sê aan my ‘verbode liefde’, maar net totdat ek klaar getroud is.
Ek moet vergeet van my liefde en fokus op die troue, ek bedoel, dis oor drie weke, en hoe op aarde gaan ek in my rok inpas as ek aanhou om elke dag skelmpies weg te sluip van die huis af, om my ‘verbode liefde’, my cadbury’s slabs te gaan ontmoet??