'n Vinnige heen en weer, 2444km later Deel: 2.

Daardie aand, nadat ons bagasie afgedra is, het alles rustig geword, behalwe dat ek nie dadelik aan die slaap kon raak nie. Was so opgewonde oor die volgende dag wanneer ek die Engelse bulhondjie sou gaan haal. Dit was die rede vir hierdie reis, die hondjie was 'n geskenk aan my skoonseun van my af..

Saterdagoggend het ons 'n heerlike boere ontbyt gehad, gegroet en vertrek om hondjie te gaan oplaai. Wat 'n opgwekte diertjie ! Sy is 'n pragtige, vriendelike en hoogs intelegente Engelse bulhond met al die goeie kenmerke en eienskappe om 'n goeie skouhond te word. Die toekoms sal maar moet leer.

Sowat 'n halfuur later was ek oppad terug Kaap toe met die kosbare kleinnood.My kinders is kinderloos
en vir eers sal Woefie maar moet troos totdat hulle finaal oor aanneming besluit het. Ek het die vorige aand op Ventersburg tenk volgemaak en toe besluit ek gaan maar kyk hoe ver gaan hierdie tenk petrol hou. Ek het Hanover met gemak gehaal en nog 'n kwart tenk oorgehad.

Toe ek begin ry , het Woefie onder 'n spons kussing gaan wegkruip. Daar het sy geslaap totdat sy dors was. By Hanover het sy baie water gedrink en toe baie soet bo-op die kussing gaan lê soos 'n wafferse juffie.

Die volgende petrolstop was Laingsburg. Teen daardie tyd was my boude al moeg gesit en het ek soort van kriewelboude ontwikkel.My oë was moeg en seer van die skerp middagson Maar nou ja, ek wou klaar kry met hierdie reis.
Na Touwsrivier het ek afgedraai na Montagu via die Matroosbergpas. Dis 'n redelike smal en gevaarlike pad, maar dis so pragtig veral as jy die Koo vallei daar onder
so mooi sien lê en die pad kronkel met die skerpste haarnaald draaie net af en af.

Elke keer as ek daar langs ry is dit vir my 'n wonderlike belewenis. Op Montagu het ek stil gehou vir koeldrank en daarna weer verder, met die son steeds in my oë, oppad in Swellendam se rigting.

So sewe uur die aand het ek onder die groot Bloekoms op die plaaswerf stilgehou. Dis sowat 30 km vanaf Swellendam.

Woefie het dadelike met haar nuwe mense-ouers geassosieër en die Kaap was hollands. So het my reis geëindig van Vrydag tot Saterdag, 'n vinnige heen en weer, 2444 km later. Maak so iets alles sin ???

Jou reis vir woefie die bulhond

Dit was alles die moeite werd! Goeiste, dit was omtrent 'n grootry gewees vir die spesiale geskenkie aan jou kinders. Ek is so lus vir 'n vakansie, enige iemand wat nou vertel van wiele oppad wapad toe gaan my selfgenooid op die agtersitplek kry! :-))
Dankie vir die saamry!