Meraai vannie baai: Uiteensetting van die struktuur vir die pannekoek-gedig van Ya'acov.
Ek het vanoggend oral gesoek na bestaande riglyne/reëls vir 'n pannekoek-gedigvorm. By die toebroodjie-gedigte het Ya'acov met sy bestanddele opgedaag en begin bak-n-wip met mooi-mooi mik (die woorde is geleen vanuit sy pannekoek-bestanddele)
Ons het op die oomblik geen riglyne om op te steun en ek voel dat hierdie kreatiewe skepping van Ya'acov beslis opgeteken moet word!
SO: Nou moet ons die reëls en riglyne uiteensit as ons hierdie gedigvorm die lig wil laat sien vir die nageslag
Wat ek gewoonlik doen in so geval is om die titel-woord te neem en dan die beeld voor my te sien van die gedig in eindvorm. In hierdie geval is dit 'PANNEKOEK'
Die beeld wat ons oproep is plat. So die woorde moet 'n konkrete vorm aanneem sodat die leser 'n plat pannekoek voor hom sien.
Om hierdie beeld met woorde te skep moet al die woorde dus in een reël kan pas EN alles oordra wat die digter wou deel met die leser.
Ons het Ya'acov se pannekoek-bestanddele om te meet en pas:
meng-menige-meel-n-mengbak, bak-n-wip, mooi-mooi mik, kaneel op gebakte meel , pragtige plat pannekoek
Op die oomblik val die laaste deel van jou gedig van die lyntjie af en die beeld van 'n pannekoek wat geskep wil word - het nou die snoeisker nodig om te pas by die konkrete struktuur wat ons bou met woorde:
Dit is nou op hierdie stadium wat die skrywer met die keuse sit:
gaan ek dit in ander vorm plaas - of gaan ek kopkrap en die snoeisker inspan en 'n splinternuwe vorm skep wat voldoen aan die enigste voor-die-handliggende struktuur wat die titel aandui? PLAT.
Vir die normale bladformaat in die woordeboek en hier op die forum erf, het ons hierdie spasie op 'n enkelreël:
Jou woorde moet die maatlyn vul en die bestanddele moet hier kan pronk
Kom ons kyk watter gesnoeide woord sal in hierdie maatlyn pas:
meel-n-mengbak, bak-n-wip, mooi-mooi mik, kaneel-op-gebakte-meel
As jy die geknipte woorde wat oor is "Pragtige Plat Pannekoek" gebruik vir jou titel sal die res van jou woordbestanddele presies die beeld en geur oordra Y!
meel-n-mengbak, bak-n-wip, mooi-mooi mik, kaneel-op-gebakte-meel
Let nou op na die alliterasie van jou gedig wat nie verlore gegaan het van die titel tot die begin en end. Ons begin en eindig met 'meel'.
'n PUIK gedig!!
Nou het ons 'n pannekoek-geraamte-struktuur om mee te speel. Diep kniebuig vir jou kreatiewe denke Ya'acov
*As jy hierdie struktuur wil skep, maak seker van die toelaatbare spasie van die uitstalrak - en begin dan klits-n-flip met mik-n-knip aan jou pannekoek-beslag
"Veel-smakige vulsel variasie"
korreltjies-kaneel saam stukkies-suiker, strooi sommer so, smul
©
Piet Magriet:
Julle laat my dink aan:
Handjies klap, pannekoekies bak, bring die meel, nie te veel, nou-nou eet ons lekker!
Wat van:
Tant Siena se dik kerkbazaar pannekoeke bly die beste!
©
***
Maccie ek sien al Tant Siena se pannekoeke opmekaar gestapel op die bazaar tafel:
Tant Siena se dik kerkbazaar pannekoeke bly die beste!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Tant Siena se dik kerkbazaar pannekoeke bly die beste!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Tant Siena se dik kerkbazaar pannekoeke bly die beste!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Tant Siena se dik kerkbazaar pannekoeke bly die beste!
***
Meraai vannie baai:
Met die gedigstruktuur werk die koppelteken-tameletjie woorde baie lekker. Hier het ek woorde vanuit die tuin (struikgewasse ensovoorts) ingespan om 'n pannekoek gedig saam te flans. Dit sluit die titel in. Al die woorde vorm ook deel van ons eksosentriese komposita in Afrikaans:
Moeder-skep-oppies, hanetjies-en-hennetjies, wag-'n-bietjie; Engelsman-se-kind!
©
Moeder-met-die-kindertjies = krismisroos
Moeder-skep-oppies = 'n blomsoort
Hanetjies-en-hennetjes = 'n klein rooskleurige veldplant
Wag-'n-bietjie = 'n soort Akasia
Engelsman-se-kind = bossie met geel blommetjies wat in vleie groei




