Penskets

Verwysing: 
Met spesiale dank aan Mel vir hierdie kreatiewe bydrae in ons boekie van woorde

Mel: Aangename kennis

In die doolhof van my ongebalanseerde gedagtes, ontdek ek toe skielik my identiteit. Natuurlik was ek alleen. En soos gewoonlik eensaam. Ek het alweer die een of ander weeerlose siel ongemaklik en redelik kwaadaardig gemaak. Net soos altyd.

Jy sien, dit is regtig nie 'n eienskap wat ek aldag duidelik verstaan nie. Die beheerbaarheid daarvan is ook goedertrou nie in my eie hande nie. My hele lyf, taal, wese en lewenswyse is verantwoordelik. Dit is ek!

Ek val ook weer so rond tussen woorde en nuttelose punte dat ek nie sin maak nie. Ek het die Robin-Hood-sindroom. Moeilikheid weet waar ek bly. Ek nooi dit nie in nie. Dit het selfs 'n duplikaat sleutel gemaak vir spesiale ongenooide kuiertjies. Selfs in die middel van die maand wanneer geen middelklas mens meer genoeg koffie of suiker het wat in hul kaste ronddrentel nie. Die melk proe selfs bietjie suur terwyl jy blosend hoop dat niemand dit sal ruik nie.

Ek is 'n probleem. Net so uitgespreek en voorheen baie genoem. Die kwaliteit om enige stereotipe mond in rekordtyd 'n skewerige lyn te laat trek, is vasgeanker in my oê.
Die naamlose swart skaap van enige gesiene familie wat net geen taal of tyding van kalm-wees ken nie. Die broer in die tronk wat voor die kuiergaste bespreek of genoem word met 'n sug of traan van Mamma se kant af. Dit is ek!

Ek het voorheen die merkwaardige honderd persent probeer gee. Die resultate verskil nie veel van 'n astronomiese ramp nie. Die sekondwyser ondergaan verskeie skoktoestande die tik-tok-oomblik wanneer ek my eie bioritmiese naat probeer verstel. Die waaghalsigheid van die hele toneel verdien net nie genoeg geld na my sin nie.

Tog dien hierdie ontdekking 'n ereplek in vandag se chaotiese mensemeter. Ek ken myself. Ek verstaan myself. En ek sal myself uitsorteer wanneer niemand meer kans nie.
Los my in my hande…