Praglyne van Mostertsaadjie: Laslappiemens

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel.
Verwysing: 
Met dank aan Mostertsaadjie vir die leen van jou praglyne!

Laslappiemens

‘n Hemelse lugfoto stel ten toon,
‘n sprokieswêreld deur bome gesoom.
‘n Handgemaakte kralewerk van tyd,
‘n collage wat tot in ewigheid reik.

Rëenboogkleure is kunstig saamgeweef,
soos balletdansers wat op musiek sweef.
Nes kerspitpatrone op kussings geborduur,
is die laslappiemense wat dié wêreld versier.

Op ‘n skilderdoek vasgevang ons woorde en dade,
saamgehekel soos kosbare goue lewensdrade.
‘n Vissersnet behendig ineengevleg,
So vind elke Laslappiemens sy eie weg.

Soms net marionette wat in vertoonkaste hang,
Sommige vol moed en ander verskriklik bang!
Dan weer ander wat ry op die golf van roem,
party kere suksesvol, party kere gedoem.

‘n Laslappielewe kan erg verinneweer,
ons menswees word soms verniel, geskeur.
Dit lewer resultate van pyn en skade,
Herstel kom slegs deur liefde en genade.

Almal wil koning kraai in Laslappieland!
Hoe het ons ooit in hierdie situasie beland?
‘n Wêreld so perfek vir ons gemaak,
het ‘n aftree-oord vir gebrokenes geraak.

Rëenboog-engelkinders word weggooigoed!
Die son se strale verander in bloed!
Almal vir een word nou elkeen alleen,
vervloekings vervang woorde van seen!

O’ Feetjieland, het jy ewig heengegaan?
Het die Laslappiemense jou platgeslaan?
Uit jou puinhope verrys Godsloeënaars,
met wapens en krete van “oorwinnaars”!

O’ gebroke Laslappiemens, wat sou jy doen,
as jy jou betyds met God kon versoen?
Hy sal jou heelmaak, jou hart genees.
Hy wil jou koester, wegneem al jou vrees.

Maar om jou rug te draai is jou keuse,
jy jaag onverskillig voort teen reuse!
Jy gaan sterf, uit is jou kers!
Jy word nou deel van die Laslappiekombers.

Die hemelse lugfoto stel steeds ten toon,
‘n sprokieswêreld met grasgroen bome gesoom.
‘n Handgemaakte kralewerk met ‘n groot verskil.
Jy, Laslappiemens, is nou vir ewig stil!