Praglyne van Sonica ('n Laaste eerbewys aan ons skrywersmaat)

Woord in Engels: 
9 Okt 1965 - 30 Okt 2008
Verwysing: 
*Hierdie lyne was van die eerste praglyne wat ek gaan oes het April 22, 2008 en vanoggend het ek dit net so gaan haal en hier kom plaas as eerbewys aan Sonica.

Tussen die tente van Kedar het ek penne ingeslaan - maar saans alleen by my vuur gestaan ...

Neem my op die voetpad van stilwees ...

Iewers waar ek die donker kan aflaai ....

Laat jou rinkellag die tyd vashou - voor die donker kom wat siele skend...

Hoe vergeet mens, Here, as dit skerwe van jou siel is ...

As die dag met wintertraagheid - koud aan die ruite klop ...

En ek agterbly - met verdwaasdheid in my oë en jou bont flennieslaapbroek ...

Jy mag nou bakhand voor die lewe staan - maar jy sál die pad na beter gaan ...

Vir laas weerklink die hol klank van my treë deur die stil, leë vertrekke ...

Somber verlate te midde van ‘n spatsel geel ...

Vasgevang in my eie wag-‘n-bietjiebos ...

Het ek saam met jou vandag op die kruin van hoop gery en môre soutwater van wanhoop gesluk ...

‘n Era in my lewe het afgesluit met die klik van ‘n slot ...

* Sonica (Sonja) was 'n diabeet, sy het spierdistrofie gehad en sy was gehoorgestremd. Haar lewe was 'n straf. 'n Briljante brein met 'n liggaam wat as tronk gedien het. Sy wou graag gaan, vry wees, heel wees, normaal wees. Nou is sy daar! Spierdistrofie het haar lewe geneem, sy kon nie meer asemhaal nie...

O Sonja, ons mis jou!
Charmain