Ek is in Kimberley gebore maar in my hart is ek ‘n Bolandse nooientjie. Veral in die Herfs. Daar is vir my niks mooier as die bome in die Boland in die herfs nie. En vir baie van ons beleef ons nou die herfs-seisoen in ons lewe.
Watter boom is jy? Die koue, kaal boom, sonder blare? Of is jy die boom wat met die pragtige herfskleure oortrek is. Daar is nie regtig ‘n verskil in die bome nie. ‘n Boom bly ‘n boom. Hy het wortels, takke en blare. Sommige is lank en slank, ander lekker ronde bome met lekker dik stamme en wortels. Ander is getooi in blommeprag en sommige dra net groen blare. Dan is daar nog die wat vrugte dra.
Soos bome gaan ons vroue ook deur seisoene. Eers kry ons lente, dis nou nadat ons kinderjare verby is. Lentetyd is gewoonlik die tyd wat ons assioseer met nuwe lewe. Dis ook gewoonlik in hierdie jare wat ons verlief, verloof en (sommige van ons verlore raak) en trou. Die lewe is ‘n lied. Die wittebrood hou gewoonlik aan (en dis nogal jammer) tot wanneer ons eerste kind opdaag.
Skielik is dit somer. Dit is tyd vir produktiwiteit. Dis die tyd wanneer ‘n vrou vrugte dra. Die beste van haarself gee. Soos bome dan in hul wasdom is, is die vrou ook besig, hetsy dit haar huis is. Of haar werk of haar gesin. Sy spandeer min tyd aan haarself. Haar prioriteite het verskuif.
Soms is dit eers haar kinders, dan haar man en dan, as daar tyd is, syself. Dit is sy wat gewoonlik saans laaste in die bed klim. Wanneer die kosblikke gepak is, klere gewas en gestryk is en die groente vir die volgende dag geskil is. Sy speel taxi, sjef, verpleegsgter en is ‘n ekspert in probleemoplossing. Haar eerste bietjie sit vir die dag is gewoonlik wanneer sy saans in die bad sit.
Wanneer die kinders die huis verlaat is die vrou skielik alleen. Het sy meer as gewoonlik tyd op hande. En wat maak die meeste van ons? Ons sit in ons huise. Ons het so afgestomp geraak deur ons daaglikse verpligtinge en deur nooit tyd vir onsself te maak nie, dat ons nie meer weet wat om nou met onsself aan te vang nie. Raak ons verbitterd en onvergenoeg. Skielik het ons wêreld kleingeraak. Hierdie vroue het sommer dadelik oorgegaan na winter. Het hulle die mooiste seisoen van hulle lewe, herfs, gemis.
Dit is juis hierdie tyd wat ‘n vrou vir my op haar mooiste is. Sy weet wie en wat sy is, weet wat sy kan en nie kan doen nie en kou nie elke keer as haar nael breek of as daar ‘n vreemde verskynsel op haar gesig verskyn nie. Sy is gemaklik in haar lyf, sy en haar man het die ergste storms in hul huwelik trotseer en beleef saam kwaliteit- tyd.
Ontbyt Saterdae-oggende, besoek gunstelingplekke soos gallerye, markte en museums. Krap in tweedehandse boekwinkels en antiekewinkels, of ry lang ente in die natuur en kan stiltes – al is hulle bymekaar - waardeer. Sy het gewoonlik jarelange vriendinne, is haar kleinkinders se lig in hul lewe, ‘n stokperdjie wat sy beoefen en is dit die tyd dat ons almal soos ‘n pragtige boom met herfsblare moet wees. Die blare is verskillend in kleur, en dit kan ons met ons lewnsondervindings assiosseer.
Winter kom stadigaan nader. Ons skaal af, verloor gewoonlik ‘n huweliksmaat, jou vriendeking raak kleiner as gevolg van siektes. Jy sit gewoonlik self met een of ander siekte wat jou liggaam aftakel. Jy voel jy beweeg nie meer so maklik nie, vergeet meer en eet minder. Dit is gewoonlik ‘n tyd vir refleksie, ‘n tyd om afskeid te neem.
‘n Tyd om dankbaar te wees vir al die wonderlike seisoene wat jy kon beleef het!
©




