Strukture Woordslaai

Verwysing: 
Spesiale dank aan my geliefde skrywersvriend Joe (Johan Mulder) wat speels verwys het hoe sy poging sou lyk as hy die gedigstrukture sou aanpak: fruitsalad

Met hierdie kreatiewe skryfvorm gebruik die digter verskeie strukture in elk van die onderskeie verse in een gedig en bestaan die eindproduk uit 'n pikante woorddis vir die fynproewers van die ABC.

Ou gedigte kan opgediep en geklee word in 'n verskeidenheid van vorme as skryf-oefening. In elke vers word die gekose struktuur se vereiste reëls gevolg.

Hierdie gedigstruktuur kan ook as gesamentlike projek gebruik word deur 'n groep skrywers waar daar om die beurt geskryf word oor 'n voorgestelde titel. Elke skrywer skep dan 'n nuwe vers met 'n ander struktuur.

VOORBEELD: Strukture Woordslaai

Liefde ...

kontemporêr
en
tydloos;
universeel
verstaanbaar

Tussen my en jou
geen mure of toe deure;
afstand so vermy

in ons eie lewens-lae
verseëlde liefde
tonne vreugde
en onthou-jy-nog-dae

Ons saamwees; die prop
om die leemtegat in my lewensvat
so volmaak, toe te stop.

© Meraai vannie baai

Uiteensetting van strukture:
(1) Gekrimpte vers
(2) Moderne Haiku
(3) Twee lae Toebroodjie
(4) Worsbroodjie

*Hierdie is die 50ste gedigvorm waarmee ons skrywers kan skommel en woeker met die ABC