Swerftog van agt-en-dertig dae deur Namibia.

Ek loop vir oulaas deur die huis en loer rond of daar nog toerusting en bagasie is rondstaan wat in die motor gepak kan word , ek is alreeds laat volgens my beplanning maar maak liewers seker want ek gaan beslis nie omdraai as ek iets vergeet het nie.

Wanneer ek ry, dan ry ek, as ek eers haastig is kan niks my keer nie, veral as ek weet die grenspos , Noordoewer is nog ver. In my gedagtes praat ek met my self……..ja Namibia, my ou Suidwes, hoelank het ek gewag vir hierdie dag wanneer ek die wanderlust in my gees, vrye teuels gaan gee om te gaan swerf in jou moederskoot waar ek my eerste asemteug geneem het, eerste tree, hartseer, vreugde en geluk ervaar het. Jou woestynsand my voetjies geskroei en my spiere sterk gemaak het van al die sandduine klim……

Die horlosie wysers vertel my dis 15:30 toe ek die hek sluit. Gaan beslis nie jaag nie, daar is geen tydsverpligting van nou af nie, net my eie tyd en dit noem ek Afrika-tyd. Leef saam met die son… en maan…… Die motor se kragtige enjin gee ‘n lekker brul toe ek wegtrek. My reisgenoot is ‘n jarelange vriend wat op die nippertjie besluit het om saam te swerf. Dus is ek darem nie alleen nie, aanvanklik sou ek alleen getoer het met Kapoeter (Chihuahua) as enigste geselskap. Eindelik is ons oppad. In die Strand
laat maak ek die tenk vol.

In Stellenbosch begin die verkeer toe neem tot in Malmesbury. Toe ek op die N7 in beweeg, begin ek ontspan, nou is ek regtig oppad. Ai hoe heerlik………..Die pad bly besig, dis mos die einde van die maand.
Eers na ek verby Van Rhynsdorp is raak die pad stiller, die aankomende verkeer is hanteerbaar en ek geniet om in die aand te bestuur. Kilometers flits verby en ek voel nog goed ongeag die afgelope dag se dolle gejaag en pakkery.

Ons eet die aand naby Vredendal in vriendelike Wimpy van ‘n Shell Garage. Die kos is nie lekker nie, die diens is goed. Daar sien ons ‘n bakkie met ‘n sleepwa wat hoog op gestapel is vol van antieke meubels , die agterligte van die sleepwa werk nie , nie eers ‘n flikkerlig nie. Eers wou ek niks daaromtrent doen nie, toe sien ek dis ‘n hele gesin in die dubbelkajuit en besef hulle lewens mag in gevaar gestel word en het met die bestuurder van die voertuig gesels en hom ingelig oor die agterligte wat nie werk nie.
Hy was baie dankbaar en het dit net daar herstel.

Weer terug op die pad, motors raak nou baie skaars, net ‘n klomp groot trokke wat van vooraf aankom
en die wat oppad is na Namibia. Die siele op wiele is baie bedagsaam en ek steek hulle maklik verby wanneer ek hulle oppad kry. Springbok, Steinkopf verby, dis nou nie meer ver nie, amper by Vioolsdrif. Net na die draai sien ek die ligte van die grenspos. Die doeane beamptes is baie vriendelik en ons gaan vinnig deur die voorskriftelike grenspos beheer met die paspoorte en die motor.

Aan die Namibiese kant, Noordoewer is hulle ook vriendelik en flink. Ek stel my horlosie ‘n uur terug, winter is Namibiese tyd ‘n uur later as SA tyd. Dis nou 12:00 Namibiese tyd !!! WORD VERVOLG>