Swerftog van agt-en-dertig dae deur Namibia: Deel 2

Dis die vinnigste wat ek nog ooit daar gehelp is. Daar heers ‘n ontspanne atmosfeer ook by die doeane beamptes aan die Namibiese kant. Die motor word geensins deursoek nie, geen snaakse vrae nie en voordat ek nog iets hoef te dink, hou ek stil by die vulstasie op Noordoewer.

Klim uit, rek bene, my lyf begin nou moeg voel maar die stemmetjie binne my fluister, drukdeur tot op Keetmanshoop.Van hier tot op Grunau is dit 142 kilometers en dan nog ‘n verdere 156 kilometers tot op Keetmanshoop, in totaal 298 kilometers.

In hierdie tyd van die nag bekruip die moegheid jou mos soos ‘n skelm, die een oomblik is jy nog wakker en dan skielik is jy so moeg en vaak dat vuurhoudjie stokkies nie eers jou oe sal oophou nie.
Daar gebeur dit ook met my, maak die vensters oop, drink koeldrank, eet broodjie, skud my kop, vryf my oe, rook ‘n sigaret, stel die musiek kliphard. Niks wil help nie en ek is genoodsaak om so ‘n 80 kilometers voor Keetmanshoop ,van die pad af te trek, onder ‘n boom te stop en ‘n uiltjie te knip.

Na ‘n halfuur skrik ek wakker en voel piekfyn. Keetmanshoop hier kom ons, dis nou ekke, my reisgenoot en my voertuig Gogga’tjie (Jeep Cherokee 3.7 Ltd Edition 4x4). Die laaste klompie kilometers is moordend, ek is klaar weer moeg. So 4:35 in die vroee oggendure meld ons aan by die Canyon Hotel.
Daar is baie kamers beskikbaar en die tariewe is baie bilik met ontbyt ingesluit.

Ek skrik wakker so 10:35 vm, voel uitgerus en nogal honger. Na ‘n heerlike ontbyt vaar ons die dorp in op soek na basiese padkos en ‘n Namibiese simkaart vir my selfoon. Ongeveer 13:10 ry ons uit die dorp met alles wat ons nodig het. Mariental is 210 kilometers verder. Die veld is pragtig, het die omgewing baie lanklaas so mooi groen gesien, dit veral nog in die winter. Ek verlustig my aan alles wat ek so in die ry kan raak sien.

Die gras is mooi lank en die bossies nogsteeds groen en die doringbome is is pragtig. Ai hoe lekker om dit weer eerstehands te ervaar.So ongeveer 93 kilometers later sien ek aan my linkerkant van die pad die uitgedoofde vulkaan , Brukaros . Ongeveer 33 kilometers soos die kraai vlieg, van die pad af. Van kleinsaf hou die Brukaros vir my ‘n bekoring in. Dis pragtig om dit so in die verte te aanskou, my hart maak sommer so ‘n heimwee draai. Volgende keer sal ek ry tot by die krater se rant, die huidige toerplan sluit alreeds amper te veel plekke in. Die suide van Namibie is soos ‘n skatkis wat ek nog moet oopmaak, dis ‘n hele toer opsigself…

Dis warm In Mariental. Ons gooi petrol in, drink ‘n heerlike “doublethick” melkskommel by die Wimpy en daar gaan Gogga’tjie weer. Eindbestemming vir die dag is Windhoek, met Rehoboth tussenin. Nog net 186 kilometers is oor . So ongeveer 17:20 ry ons Windhoek binne en draai dadelik af na Arebbusch Travel Lodge. Dis ‘n lieflike skoon plek met baie oulik beskikbare chalets.

Ek haal diep asem en begin terug dink aan my jongmeisie dae in hierdie mooi stad Windhoek. Toe het ek elke pad, straat en kortpaadjies in en rondom die stad geken. Alles het intussen so verander dat dit ‘n ruk neem voor ek weer my “bearings” vind. Nuwe winkelsentrums, nuwe geboue en nuwe paaie. Net vreemde gesigte, maar tog vriendelik en behulpsaam. Die lekkerste van alles is die mooi suiwer Afrikaans. Maak nie saak nie, swart, bruin en wit laat die taal aanhou leef, selfs in ‘n restaurant in die middestad het ‘n swart dame ons in suiwer Afrikaans bedien. Ek het sommer toontjie’ krul lekker gekry.
Want in die begin dae na onafhanklikheid van Namibie moes almal in die skole engelsmedium aanvaar.
En nou , wat nou ??? Afrikaans het oorleef. Nou gaan ek rus, more sal ‘n lang dag wee s. Baie te doen. word vervolg>

Swerftog van agt-en-dertig dae deur Namibia: Deel 2

Ek probeer nog my weg vind hier op WOES, maar kan nie mooi kry wat ek wil hê nie, so vertel my nou asseblief waar die vervolg op hierdie skrywe van jou gevind kan word? Dit kan net lekker wees om die sirkel van jou toer te voltooi.