Titelverhale

Verwysing: 
Met dank aan al die skrywers wat bygedra het.

Een titel - drie verskillende verhale

Mel: My duisend kilometer na iewers
Lig penetreer die donkerte en ek skrefiesloer deur swaar ooglede na die omgewing om my. Skielik klap onthou my deur die gesig en paniekbevange wonder ek oor my bagasie wat vergete vir my staan en wag. Gister kom tartend nadergehardloop en trek skewemond vir die terugdeins wat die herinnering saamdra.

Gister was ek nog "normale mens" genoem. Gister wat met onskuld aan my voordeur kom klop het, het my nog onder ordinêr gerang. Bitterheid maak skielik sitplekruimte in my gemoed. Ek was veronderstel om nog 'n dag te oorleef....net soos eergister. En die dag daarvoor...Waar het die roete dan verkeerd gegaan? Ek, in my tipiese huis in 'n gemiddelde woonbuurt met kletsende huisvrouens voor hul rooigevlekte posbusse. Dit is die vista wat netjies verpak aan my voorgelê was. Die bepalings het ek noukeurig en slaafs gevolg met weke en maande in gewone orde gespasieer. Die sonskyn wat met oorgawe deur my ruite gespoel het, het verwelkomend 'n nuwedagslied gesing. En ek was dankbaar... Die stormkreatuur in my binneste was stil.

Tog begin die foto van werklikheid 'n indruk in my brein plant en stelselmatig begin die los drade 'n prentjietou vorm. Daar het 'n gevoel in my begin groei teen die tyd wat die weste die son kom wegneem het. Mistige kolle het my redenasie voetjie-vir-voetjie begin manupileer totdat alle kleure in my gestruktureerde milieu deursienbaar was. En die wete dat die tyd weer aangebreek het, het houvas gekry. Ek het my weeskindbesittings in 'n swart tas gegooi en op my enkelbed gaan sit en wag...

Ek voel hoe die spuitnaald 'n pengreep in my vel kry en laastens groet ek realiteit…Hierdie is weer my duisend kilometer na iewers.

bertha badprop: My duisend kilometers na iewers

Sy stap by die kroeg in. Leather pants, enkel boots en stywe bloes. Die V voor by haar bloes steek net-net die heuwels van genot weg. Met haar donkerbril, bandanna om die kop en Kawasaki pispot in haar hand, is sy ‘n bikergirl from hel. Met vaste tred stap sy tot voor die kroegtoonbank. Haar stem is musky, vloei soos whiskey oor gladde fluweel.

“Barman, maak dit ‘n double J&B on the rocks.”

Jim ken die kyk in haar oë. Dis weer tyd om pad te vat. Haar helmet, bril en beursie lê vergete langs haar, haar heuning oë dwaal lusteloos op soek na inspirasie.
“Comin’ up, honey,” antwoord hy soos altyd.

Sy’s ‘n regular hier. Soms raak sy weg vir maande maar haar pad huis toe ken sy goed want soos ‘n lang verwagte reënbui sak sy toe op Sundowners Pub and Grub en bestel haar J&B. Haar favourite gesegde is dat sy haar mans like soos haar whiskey: hard, calculating and refreshing. Hoe sy dit bepaal weet nugter alleen.
Jim stap nader aan haar en plaas haar drankie voor haar.
“Waarheen nou?”
“Tsk, wat laat jou dink…” begin sy, maar eintlik praat sy teen haar beterwete. Sy sug saggies.
“Daar’s ‘n bee iewers. Jy weet, dit krap en steek tot ek pad vat. Ek weet nie, ek moet iewers heen, maar my bike moet my lei.”
Haar stem en haar look skrei ten hemele. Jim vermoed dat sy nie altyd so hardup angry chick was nie. Maar die trek om haar mond sê genoeg. Niemand sal haar vra oor hoekom sy is soos sy is nie. Selfs die mans loop lig vir haar. It’s all about attitude, Jim weet dit goed, maar te veel van ‘n goeie ding maak gewone mense bang.

Haar oë dwaal weer doelloos deur die kroeg. Dieselfde crowd, dieselfde vibe, dieselfde verwyte en spot. Dis tyd vir ‘n change. ‘n Welcome change, nie ‘n dooie groet nie.

Sy slaan haar derde dop by haar keelgat af, voel hoe die vog haar van binne verwarm en wens vir ‘n tweede kans. Dis te laat. Dis altyd te laat. Sy staan op, kry haar beursie, bril en helmet en stap by die kroeg uit. Sy waai nie meer nie, groet nie eers nie. Die konsertina deure waai ‘n laaste wuif maar Jim weet sy sal terug kom. Sy kom altyd terug al is dit nie altyd na hom toe nie.

Juenka: My duisend kilometers na iewers

Sy stoot die bottel Jack voor haar weg. Asof die laaste bietjie haar oor die edge gaan plaas waaraan sy so gemaklik hang. Dit is al na twee in die oggend. Die huis is stil. Dodelik stil. Sy trek die laaste tabak uit haar sigaret uit en maak dit dood in die bietjie whisky wat nog in haar glas dryf.

Na twee mis vatte kry sy die muis in haar hand. Die beweging gee haar rekenaar skerm lewe en verlig die kamer. Die skerp lig brand haar oë en laat haar fokus verloor. Nou pas haar visie by haar lewe. Geheel en al uit fokus uit. Die geduldige leë bladsy met die alleen beweging van die klein vertikale strepie wag vir haar. Vier ure se wag vanaf sy geboorte. Sy kyk na haar hande terwyl sy hulle versigtig op die keybord plaas. Haar regter wysvinger en middel vinger is kerrie geel bevlek met haar kanker sondes. Sy sluk maar daar is niks om te sluk nie behalwe die bitter smaak van haar gal tong. Sy lug haar vingers net ‘n paar millimeters van die asdf jkl; af op. Sy forseer haar longe vol bedompige lug en met die uitblaas begin sy tik. Net drie woorde.

By haar voordeur tel sy haar rugsak op en gooi dit oor haar skouers. Sy draai vir ‘n laaste keer om en kyk terug na die chaos agter haar. Daar is net soveel wat sy kan gee. Sy hoort iewers, iewers anders as hier. Moontlik duisende kilometers ver. Soos wat sy in die straat afstap kan sy voel dat die oggend lug koud is maar verfrissend. Hernuwend.

Op die skerm in die bedompige kamer wat soos whisky en rook ruik staan haar laaste woord.

F@k julle almal.