Toevallige Gevinde Gedigte

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel om die voorbeelde onder aan die voorgeskrewe riglyne ook te lees.
Verwysing: 
Spesiale dank aan McF vir die uiteensetting van die riglyne en pragtige voorbeelde van hierdie kreatiewe gedigvorm van sy neef.

'n Verfrissende ander manier om gedigte te skryf. Kom probeer dit gerus. Ek het die digkuns baie geniet en het sommer vandag 'n paar geskryf.

'n Toevallige-gevinde-gedig, was/is nie bedoel om 'n gedig te wees nie, maar die woorde is gevind in 'n nuuskoerant se artikel, tydskrif-artikel, stukkies gesprekke van persone en/of die inhoud van 'n nota. Opskrifte in die koerante of tydskrifte kan ook gebruik word. Dit word dan ook so deur die vinder, genoem dat dit 'n toevallige-gevinde-gedig is.

1. Die gedig word nie deur die digter self, uitgedink nie.

2. Die toevallige-gevinde-gedig (vereis wel) kundigheid soos fyn luister, vluglees en baie belangrik: verstaan wat jy lees vir hierdie soort digkuns.

3. Die gedig-vinder moet sensitief ingestel wees om uitstaande sinne te vind wat 'n reaksie of gevoel sal uitlok.

4. Dis belangrik dat die gedig-vinder nie enige veranderings aan die gevinde sinne maak nie.

5. Die gedig-vinder mag nie woorde byvoeg of woorde weglaat by die gevinde sinne.

6. Die gedig-vinder mag wel kies hoe hy die sinne wil plaas in die gedig struktuur, van sy/haar keuse

7. Die gedig-vinder mag sy/haar eie leestekens in die (toevallige-gevinde-gedig) gebruik.

8. Die gedig-vinder mag ʼn titel gee vir die toevallige-gevinde-gedig en die gedig-vinder mag die gedig kopiereg gee, omdat hy toevallig ʼn gedig in die artikel gevind het, maar (baie belangrik) dit moet nie plagiaat vanaf ʼn ander gedig wees nie.

9. Dit mag nie aanhalings van ander digters wees nie.

10. Die toevallig-gevinde gedig moet in ʼn volledige artikel, tydskrif-artikel gevind word en/of uit gesprekke van persone.

11. Dit vinder moet aandui dat die gedig, 'n toevallige-gevinde-gedig is.

Voorbeeld 1.

Bloedige slagting

Die vloér
was vol bloed
...dis wat ek
eerste gesien het

toé –
sien ek hóm,
met 'n mes
in die hand

...besig
om net dáár
die skaap te slag.

© * Toevallige-gedig-vonds (Aanhaling van 'n gesprek)

Voorbeeld 2

WHAM

En almal wat so kerm:
Maar jy klá net,
wat van ons land se probleme óplos?

Is hulle van lotjie getik?
Onthou, ek is gemarginaliseer,
ek kán nie ʼn verskil maak nie.

Daai magteloosheid...

So dan besluit jy:
Ag wat, ek migreer binnetoe
en gesels in ʼn bar
oor die agtertyre van my bike.

Met die brandmerke van
– nog ʼn WHAM* op teer.

* White Afrikaanse male/wit Afrikaanse man.

© *Toevallige-gevinde-gedig (Aanhaling uit ʼn nuus-artikel) Rapport 29 Maart 09

Nog 'n voorbeeld van no 2

Dis hý

Dis hý –
daar op die bed,
hande agter die kop

een been
gekruis oor die ander...
besig om na die wit plafon te staar.

© *Toevallige-gevinde-gedig (Aanhaling uit ʼn nuus-artikel) Rapport 29 Maart 09

Voorbeeld 3

Liefdesbaba?

Verlore
in niemandsland

privaatheid
geskend?

nét as dinge verkeerd loop...

G’n liefdesbaba!
bloot ʼn buite-egtelike kind,
net een nag saam in die bed
is g’n liefde...

– nog ʼn glansmens
wys sy ware kleur!

© *Toevallige-gevinde-gedig (Aanhaling; opskrifte uit die nuus-afdeling en briewe-afdeling, Rapport 29 Maart 09)

Voorbeeld 4

Liefde jou Ma

jy het lekker geslaap
wou jou nie pla

ek sien jou vanaand
by oom At se huis

trek asseblief
jou blou hemp aan

tog net nie saam
met die stukkende jeans

liefde

jou Ma

© *Toevallige-gevinde-gedig, nota op die yskas, (aan my gerig), vanaf my ma.

*Hierdie is nie my eie idee nie. My neef het my van hierdie digkuns vertel en ook verduidelik en geleer, hoe om die gedigte te skryf.

Meraai vannie baai:
Hierdie woorde is geneem vanuit Piet Magriet se kommentaar op die Woes Forum.

Dasdra

Ek weet regtig nie waar dasdra vandaan kom nie.
Ek weet net dat ek met 'n dasdra-draak getroud is.

Hy raas en blaas
spoeg en proes
kajittel en beprikkel
maar dasdra is nie sy forte nie

Sowaar as wat padda manel dra
weier hy ... om das te dra!

Maar tog ...
die dag as hy nie
'n ander keuse het nie
lyk hy soos 'n ware heer!
En wat vra ek tog meer
dat hy net ...
daardie das sal dra!

Ek verstaan tog wel
dat in SA se hitte so fel
dit net 'n stryd moet wees
om daardie ding so naar
om jou nek te dra

Dus het ek so mooi
al wat 'n das is ...
weg gegooi!

TGG © Piet Magriet

MEER OMTRENT HIERDIE DIGVORM:
McF:

Navorsing oor die toevallige gevinde gedig

Reeds vanaf 1950 is daar gebruik gemaak van hierdie kreatiewe manier van digkuns.
Uit die navorsing wat ek gedoen het blyk dit dat Opperman die eerste persoon was, om die gedigkuns te beoefen en hy het dit ʼn Optel gedig genoem.

Die bekende gedigte (Klara Majola; Draaiboek en Ruimtesentrum, Houston;) is die drie optel gedigte (wat ek kon vind) wat deur Opperman geskryf is, deurmiddel van artikels uit koerant berigte.

Die gedig Klara Majola se gegewens het in: Die Burger van 31 Julie 1950 verskyn.
Die gedig Draaiboek se gegewens het in: Die Burger 7 Oktober 1946 verskyn.
Die gedig Ruimtesentrum, Housten se gegewens het in: Die Beeld 27 Julie 1969 verskyn.

Daar is ʼn groot verskil in die manier waarop die digter Opperman van die gegewens gebruik gemaak het, en indien julle sou belangstel hoe die (optel gedig) verskil van toe tot nou sal ek die koerantberig en die gedig vir julle hier kom plaas.

Hier volg ʼn voorbeeld van die digterlike verwerking van ʼn berig (deur Opperman)

Die digter het hier baie na aan die berig gebly (hy noem dit ʼn optelgedig) tog het hy ook kreatief ingegaan teen die oorspronklike berig, dinge weggelaat en dinge bygevoeg. Waar die berig oorwegend ʼn verslag is, is die gedig krities en meer sinies.
Kyk ook na die berig en lees die bekende woorde (van Armstrong) wat op die koek aangebring is en deel vorm van die feestelikhede, terwyl die gedig niks oor die koek self sê nie. Mens kan dus die beroemde woorde van Armstrong as soort van ʼn siniese kommentaar sien (in die gedig) op die hele bespotlike feestelikheid.

Die berig soos verskyn in: Die Beeld van 27 Julie 1968.

JOLYT MET MAAN AS EREGAS

Ruimtsentrum–Housten (Texas). Dit was ʼn party soos daar nog noot was nie. Die enkele eregas was ʼn helder bol in ʼn wolkelose sterrehemel en hier het die uitbundige jolyt soos ʼn seekat se arms oral ingekruip en ʼn karnavalgees geskep.
Dit was die grot fees om Apollo 11 se terugkeer te vier...terwyl ʼn helder maan stilswygend dopgehou het.
Daar is gedrink en gelag en gedans op die gras, rondom swembaddens, in kroeë, op balkonne, in deftige hotelle en selfs op ʼn duikplank! Alles is oorboord gegooi om die drie Amerikaanse ruimtemanne terug te verwelkom.
Tussen ʼn klomp mans het ʼn wetenskaplike met groot gesag gesê: “Die maansending is van so indrukwekkende omvang dat dit nog nie tot ons deurgedring het nie.” Maar hy is doodgeskreeu omdat die spanning uiteindelik gebreek was en almal net wou juig.

Donkerkop

By een partytjie het ʼn oulike donkerkop, Cathie Fairley, gesê: “Ek is hier saam met drie kêrels van ons kantoor en hulle drink gewoonlik nie veel nie. Maar vanaand is ek bang...
Die hoofweg wat die ruimtesentrum van die woongebied skei, Nasa Raod 1, was ʼn toonbeeld van Chaos. Mense en motors het die pad volgepak.
ʼn Nyweraar het gesê: “Ek was nog vir elke lansering by Kaap Kennedy. Maar ek het nog nooit iets gesien soos die een nie. Mense peul eenvoudig oral uit en sak soos sprinkane op alles toe”
By ʼn hotel het ʼn vername man langs die swembad gaan staan en uitgeroep” Nog net een drankie dan loop ek op water” Hy moes daarna uit die swembad gehelp word.
ʼn Entjie verder het ʼn popgroep langs die swembad gejil “Baby, baby, baby...” terwyl ʼn aantreklike meisie op die duikplank gedans het.

Sitvlak

ʼn Rukkie later het sy van haar goudkleurige mini ontslae geraak en toe met ‘n tiergesig op haar sitvlak gepronk.
Hieroor het die mense rondom die swembad mal geraak en ʼn hele paar is in die water gestamp. Toe het die gees vlam gevat en een na die ander het ingespring.
Sowat 25 myl verder het die drie vroue van die ruimtemanne, Jan Armstrong, Joan Aldrin en Pat Collins, ʼn deftige onthaal bygewoon. Hulle was behoorlik in die kalklig en al die gaste was op uitnodiging daar.
Op die pragtige versierde koek was dié woorde geskryf: Een klein tree vir die mens, een groot sprong vir die mensdom.

Hier volg die gedig:

RUIMTESENTRUM, HOUSTON

Dit was ‘n party, soos daar nog nooit was nie.
Die enkele eregas:
‘n helder bol in ‘n wolkelose sterrehemel
en hier het die uitbundige jolyt
soos ‘n seekat se arms oral ingekruip.

Dit was die groot fees van Apollo 11.

Daar is gedrink en gelag en gedans
op die gras, rondom swembaddens,
in kroeë, op balkonne, in deftige hotelle
en selfs op ‘n duikplank!

By ‘n hotel het ‘n vername man
langs die swembad gaan staan en uitgeroep:
“Nog net een drankie
en dan loop ek op water.”
Hy is uit die swembad uitgehelp.

‘n Entjie verder het ‘n pop-groep
langs ‘n swembad geskree: “ Baby, Baby, Baby...”
terwyl ‘n aantreklike meisie op die duikplank dans.
‘n Rukkie later het sy van haar goudkleurige mini
ontslae geraak
en toe met ‘n tiergesig op haar sitvlak gepronk –
net die mond was vertikaal.

Dit het die mense rondom die swembad mal gemaak
en ‘n hele paar is in die water gestamp.
Toe het die gees vlam gevat
en een na die ander het ingespring.

“Een klein tree vir die mens,
een groot sprong vir die mensdom.”

-------------------------------------------

* Lees weer die berig en kyk of julle kan sien waar het Opperman in die gedig sy eie woorde ingebring. Let ook op dat hy het woorde weggelaat in hierdie opgetelde gedig.

Ek dink dat die berig en gedig, dra by tot ‘n beter begrip van wat ‘n optel gedig en/of soos ons dit noem Toevallige-selfgevinde-gedig, alles behels.

Dit is wonderlik om hierdie berig en gedig te kan lees, asook te sien hoe die gedig geskryf is.
Vir my is dit ‘n groot aansporing om nou nog meer te konsentreer om meer selektief te wees, as ek ‘n toevallige-selfgevinde-gedig skryf.

Ek begin nou net wonder of mens dit nie moet vernoem na (optel gedig) soos Opperman sy gedig genoem het nie.

*Ek sal mettertyd die ander twee (optelgedigte; van Opperman en die berig wat daarmee saamgaan kom plaas)
Ek dink dat ons nou met veiligheid kan sê dat hierdie gedigvorm wel ‘n bekende gedig vorm is.
Ek dink ook dat miskien sal ons nog sulke gedigte onder ander ouer digters sal vind, as ons daarna soek.

* Bronnelys: A.P. Grové Woord en Wonder