Wanneer 'n mens wil lag, maar mag nie


Ek is een van daai mense wat aan die lag raak, wanneer 'n mens nie eintlik mag lag nie.

Vanoggend was dit weer so....en die keer in die kerk!

Net soos die dominee sy mikrofoon aansit om die diens te begin, kom daar 'n klipharde geluid daaruit dat van die mense in die kerk wip soos hulle skrik. Die een ou tannie skuins voor my het sommer met haar hande woes begin swaai van die skrik en dit was nou net genoeg om my aan die giggel te sit.

Ek moes my lippe styf op mekaar vasknyp om nie hard te lag nie en het dus so met skouertjies gesit wat skud van die lag tot my man my in die ribbes pomp met sy elmboog dat genoeg darem nou genoeg is.

Nou ja, gelukkig kon ek toe darem ophou giggel deur net my aandag op iets anders te verskuif, maar dit is nie altyd so maklik nie.