Woorde wat beelde skep: Kwagga

Woord in Engels: 
Druk asb op die 'read more' skakel vir nog praglyne van Kwagga!
Verwysing: 
Met dank aan Kwagga vir die leen van jou praglyne.

*Dagskilderye

As die son die nag weg skyn is daar 'n silwerskoon wit doek, styf gespan wat wag vir my oë om oop te gaan, wat wag vir die verfdruppels van elke dag.

Ek kyk in jou oë as ek ontsnap uit my drome, jy drup blou druppels van geluk en rooi druppels van liefde op my nuwe dagskildery. Soos wat die verf afloop en ontmoet maak dit pers skakerings van eindelose onvergeetlike passie sag soos fluweel.

Jou oggend-glimlag spoel die agtergrond in met vars groen soos somergras. Koffie en menthol sigaret geselsies maak kleure van kaneel en goud. Hitte van jou hand in myne reën silwer en giet 'n raam om.

Soene soos skoenlappers waai die kleure rond in oop spasies wit en vertak in kombinasie kleure so skaars soos potblou rose. Jou lag borsel die voorgrond helder oranje en geel. Vanaand hang ek my nat skildery op in die gange van my hart en versamel jou elke dag net vir my.

*Nader as Teenaan Jou

Kerswas smeltdrup teen 'n warm vlam. Die vlam speel rond met ons skaduwees en blink in altwee jou oë. Alles is stil behalwe ons oë-taal wat onafskeidbaar gesels. Magneetkragte lok my nader as teenaan jou.

Asems raak stil en my oë begin oor jou hele lyf wag. Ek voel dronk sonder rooiwyn in 'n glas en die aarde verdwyn waarop ek staan. Jou lippe waarmee jy so saggies praat hipnotiseer my op 'n binneste vlak.

Elke soen gedryf deur smag, so spesiaal, so unreal soos soet litchie's in die winter. My hande maak seker van die mooiste mooi. Onwerklik, werklik mooi. Jy besoedel my gesond met liefde en voer my weg in droom-, lug- en seestrome.

Ons soek en roep mekaar so styf bymekaar en deurmekaar gerangskik. Lywe smelt en giet inmekaar. Elke onvergeetlike kyk so intens. Ek wil vir ewig hier lê en jou so vasklou.